Daar is verskeie redes hoekom moordsake, soos dié van Chanel du Toit van Franschhoek, vir jare in die hof sloer.

Volgens ’n staatsaanklaer, wat nie by naam genoem wil word nie, speel die vaardighede van speurders en die vrag sake wat hulle terselfdertyd moet ondersoek, ’n groot rol.

Du Toit se man, Johan, is van haar moord aangekla. Hy word daarvan beskuldig dat hy haar verwurg het. Die oorledene se lewelose liggaam is op 7 Julie 2010, amper 12 jaar gelede, in die slaapkamer van hul huis by die Dieu Donné-wynlandgoed in Franschhoek ontdek.

Johan was veronderstel om onlangs weer in die Paarl-streekhof te verskyn, maar dit is weer eens uitgestel – dié keer tot Junie vanjaar.

Die personeel van Johan se regsverteenwoordiger, adv. William Booth, het voorheen per e-pos aan Paarl Post gesê die saak is “by baie geleenthede vertraag sonder dat dit die skuld van die verdediging was”.

Die staatsaanklaer is vasbeslote dat speurders nie genoeg opgevoed is rakende moordondersoeke nie. Hy verduidelik die rede waarom hy dit sê, is omdat “algemene speurders” in plaas van speurders wat in die spesifieke misdaad spesialiseer, moordsake moet ondersoek.

Die aanklaer noem ook ’n groot agterstand word met nadoodse ondersoeke ervaar, en staatsaanklaers moet tot ses maande vir die moorddossier wag. Wanneer hulle wel die dossier ontvang, moet aanklaers soms self die ondersoek weer oopvlek en verder krap vir antwoorde.

“Daarom is vervolging in hierdie land ook ondersoekend. Benewens die hofwerk wat ons doen, moet ons nou ook hierdie mense [die polisie] help om ondersoeke te doen. So, hulle mors letterlik net die tonele op. Ook, een van die hoofredes waarom ons dikwels nie eens ’n saak voor die hof kan bring nie, is omdat nadoodse ondersoeke nooit betyds gereed gaan wees nie. Soms is getuies ook moeilik en wil hulle nie betrokke raak nie, maar dit is hoofsaaklik omdat daar ’n vaardigheidsprobleem is [wat speurders betref].”

Hy sê die agterstand in nadoodse ondersoeke word toegeskryf daaraan dat die staat net een persoon het wat moet omsien dat die ondersoeke gedoen word. Behalwe vir die eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming, seksuele misdrywe (GKS) en teenbende-eenhede, wys hy uit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens daarby sal baat as nog spesialiseenhede gestig word wat op spesifiek misdade soos dwelmhandel en moord kan fokus.

“Ons het nie moordspeurders nie. Ons het ’n speurder wat moorde ondersoek, maatskaplike probleme, kwaadwillige saakbeskadiging en die besit van ’n bietjie dagga. So, wanneer dink jy gaan hy ’n moordsaak kan doen? Ons het nie spesifieke eenhede nie. Ons het ’n eenheid nodig om dwelms, huishoudelike probleme en moord te hanteer.

“Dit is hoe dit veronderstel is om te wees, maar hulle dink nie dit is in hierdie land nodig nie. So, dít is die uitdagings wat ons in die gesig staar. Ons het hulle gevra om ’n moordeenheid te stig. Ons het sover gekom om nou ’n teenbende-eenheid te kry. Jy sou dink dat dit die soort dinge is wat ’n prioriteit is. Nou het ons algemene speurders wat moorde ondersoek.”. There are several reasons why murder cases, such as those of Chanel du Toit from Franschhoek, have been dragging in court for years. According to a public prosecutor, who does not want to be named, the skills of detectives and the heavy load of cases that they have to investigate at the same time, play a big part.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article