Roses se Xavier Mitchell (13) op volle vaart.

Credit: SYSTEM

’n Driekuns drieë in sy debuutwedstryd vir Roses deur die buitesenter Xavier Mitchell het Saterdag groot opwinding op Evergreenspark in die Paarl veroorsaak toe Roses United teen Robertson Rangers uitgedraf het.

Roses het aanvanklik gesukkel om die manne van Robertson baas te raak. Hy het wel op dreef gekom en sy eerste drie deur Xavier was ’n juweel – die buitesenter het sy teenstanders met ’n binne- en buite-aftrap letterlik laat stilstaan.

Eintlik was dit net ’n kwessie van tyd voordat die manne van Wellington hul spiere sou bult onderweg na hul sege van 48-21. Die rits drieë wat die span ingeryg het, het die toeskouers gou van die dag se hitte laat vergeet. Toe rustyd aanbreek, was reeds Roses gerieflik 22-0 voor.

Roses was egter wisselvallig in die skrums en was by tye in tru-rat. Sy agterlyn was egter skitterend. Dié ry was op die aanval met goeie visie, vaart, kommunikasie en verspreiding van die bal, en het die toeskouers telkemale op hul voete gehad.

Die span van Roses United het verskeie kombinasies in sy vriendskaplike wedstryd teen die manne van die Breërivier-streek getoets.

Die Robertson Rangers het wel by tye teruggeveg en drie verdoelde drieë aangeteken. Roses het egter van rat verwissel en ’n verdere vier drieë aangeteken danksy sy voor- en agterspelers wat goed as eenheid saamgespan het.

Roses kan trots wees op sy oortuigende sege aan die einde van die wedstryd.

Jevan August, die agsteman en kaptein van Roses, het dikwels ’n alleenstryd gevoer, terwyl Xavier en sy skrumskakel Winifred Hendricks ’n baie goeie dag beleef het.

Ná die wedstryd het Brandon April, Roses se afrigter, gesê Rangers het ’n harde wedstryd gespeel en het Roses dikwels verhoed om sy spelpatroon toe te pas. “Met die groepstelsel wil ek soveel as moontlik spelers die geleentheid gee om te speel en op só wyse ons diepte toets. Met die Boland-klubliga wat tot 23 April uitgestel is, het ons dus genoeg tyd om met spelpatrone en spelers te eksperimenteer.”

Puntemakers:

Roses – 48: Drieë: Xavier Mitchell (3), Winifred Hendricks, Damian Englodoe, Jenovan Spannenberg, Oshlin Lewis en John Jantjies.

Doelskoppe: Winifred Hendricks, Diago Julies, Elton Fortuin (2)

Robertson Rangers – 21.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article