’n Vermeende kabeldief van Paarl-Oos het die afgelope naweek ’n bloutjie geloop toe hy doodgeskok is terwyl hy na bewering ’n elektriese kabel wou steel.

Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos polisie, het die voorval Saterdag in Van den Bosstraat bevestig. Seekoei sê speurders verbonde aan die Paarl-Oos-polisie doen tans ’n geregtelike doodsondersoek.

Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê kabeldiefstal het die munisipaliteit in die 2020-’21-boekjaar meer as R5 miljoen gekos om infrastruktuur te vervang.

“Kabeldiefstal kos die munisipaliteit geld, en beroof inwoners – nie net van ononderbroke krag nie, maar ook van dienste wat gelewer kon word met geld wat die munisipaliteit nou aan die herstel en vervanging van kabels moet bestee.

“Kragonderbrekings, wat dikwels deur kabeldiefstal veroorsaak word, kan lei tot ’n toename in misdaad aangesien eiendomme meer kwesbaar is wanneer die krag onderbreek is.

“Die ergste van alles is egter die potensiële verlies van onskuldige lewens as gevolg van elektriese skok of brande wat as gevolg van blootgestelde kabels ontstaan.”

’n Gespesialiseerde kabeldiefstaleenheid is op die been gebring nadat die munisipaliteit aan die begin van die jaar ’n toename in kabeldiefstal ondervind het. Die eenheid fokus daarop om vandalisme, diefstal van munisipale infrastruktuur en kabeldiefstal hok te slaan.

Esau vra die gemeenskap om die munisipaliteit te help om kabeldiefstal in die gemeenskap te beëindig.

“Die munisipaliteit bied nou ’n beloning van tot R5 000 aan enigiemand wat geloofwaardige inligting verskaf wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en skuldigbevinding van verdagtes wat by enige misdadige oortreding teen die munisipaliteit betrokke is, kan lei. Dit kan kabeldiefstal, brandstigting, onwettige storting en ander oortredings insluit.”

Mense kan wenke naamloos aan die munisipaliteit deurgee by 021 807 8508 of 080 131 3553 (tolvry).

  • A suspected cable thief from Paarl East was electrocuted after allegedly stealing an electric cable. He died on the scene.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article