Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het onlangs laat hoor dat hy slegs ’n tariefverhoging van 9,61% aan Eskom goedkeur – nie die 20,5% wat Eskom wou hê nie – maar selfs dié goedkeuring gaan ’n groot gat in verbruikers se sakke brand.
Dié verhoging sal reeds op 1 April in werking tree.
Munisipaliteite gaan dan op hul beurt hul voorgestelde tariefverhogings, wat van 1 Julie af in werking tree en ’n gewone verbruiker se sak gaan raak, aan Nersa deurgee.
Volgens Marius Wüst, direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, is die munisipaliteit verheug oor die verlaagde goedkeuring aan Eskom, alhoewel hy nog geen aanduiding het oor wat die riglyne en aanbevelings ten opsigte van munisipale toegelate verhogings sal wees nie.
“Die munisipaliteit gebruik eerstens die aanbevole riglyne van Nersa as basis, dan word die ‘koste van voorsiening’ se aanbevelings daarop gegrond om seker te maak dat die koste per verbruikersgroep en per tarief meer in pas is met die werklike koste. Hierdie voorgestelde tariewe word dan, met motivering, aan Nersa gestuur vir goedkeuring voordat dit toegepas kan word.”
Wüst verduidelik die Eskom-verhoging is nie net op energieverbruik van toepassing nie, maar ook op alle vaste asook oorhoofse kostes, en daarom sal dit ook so na die beskikbaarheidstarief deurgetrek word.
“Wat alternatiewe opwekkingsmoontlikhede betref, is verskillende prosesse reeds in ’n gevorderde stadium om die lewensvatbaarheid, asook die bekostigbaarheid daarvan, te ondersoek.”
Hy sê die munisipaliteit het begin met ’n poging om voldoende hernubare energie op te wek om veerkragtig ten opsigte van Eskom-beurtkrag te wees, maar die munisipaliteit wil nie heeltemal van die Eskom-rooster af wegbeweeg nie en wil verseker dat hul verbruikers – inwoners, sakeondernemings en besoekers – ononderbroke kragtoevoer geniet.
“Vir die hele Drakenstein-gebied om ’n voortdurende toevoer van elektrisiteit te ontvang (24/7), het die gebied deurlopend tot 185 MVA (megawatt) per maand nodig. Wanneer Eskom beurtkrag toepas, verloor ons sowat 20% hiervan. Dit beteken ons het alternatiewe energiehulpbron(ne) nodig om ons van minstens 40 MVA (megawatt) per maand – deurlopend – te voorsien.”
Die Drakenstein-munisipaliteit ondersoek in samewerking met die Wes-Kaapse regering ’n bekostigbare kombinasie hernubare-energie-hulpbronne soos sonkrag en windkrag sowel as alternatiewe opsies, soos om gas pleks van elektrisiteit te gebruik.
Die Drakenstein-munisipaliteit is ook een van ses Wes-Kaapse munisipaliteite wat gekies is om aan ’n provinsiale munisipale energie-veerkragtigheid-baanbrekersprojek deel te neem.
“Die munisipaliteit het gepaste projekte in die Drakenstein-gebied geïdentifiseer, wat reeds deur die provinsiale projek se vooraf-lewensvatbaarheidsproses geëvalueer is. ’n Paar van hierdie projekte is as loodsprojekte gekies.”
Lede van die gemeenskap wat hul elektrisiteitsrekeninge so laag as moontlik wil hou, word aangemoedig om te bepaal of hul gemiddelde maandelikse elektrisiteitsverbruik in pas is met die grootte van hul wonings se aansluitings (ampère). Indien lae verbruik ’n afgradering na ’n laer ampère/aansluiting regverdig, kan dit ’n koste-besparing teweegbring.




