Die onbaatsugtige gemeenskapsdiens van die kanker-kampvegter Ingrid Rossouw leef voort, en dit ná haar dood.
Hierdie Paarlse Reik na Herstel-veteraan is in Augustus verlede jaar in die ouderdom van 82 jaar ná ’n kort siekte oorlede. Maar vandeesweek is weer eens 25 truie wat sy gebrei het aan kinders van Huis Andrew Murray (HAM) geskenk.
Ingrid se dogter, Rene Porci, het vertel dat haar ma vir etlike jare truie gebrei en aan HAM geskenk het.
Met haar afsterwe het Rene op sakke vol truipante afgekom wat haar ma kort voor haar dood klaar gebrei het, maar nooit die kans gekry het om aanmekaar te werk nie.
Rene het geweet dat haar ma graag die truie aan HAM sou wou skenk en sy het begin soek na iemand wat bereidwillig sou wees, en met kundigheid, die truie aanmekaar te werk. So het sy by Rusoord-aftreeoord in die Paarl aangeklop waar die 83-jarige Mary Sandenbergh hand opgesteek het om die werk te doen. En binne skaars ’n week het tannie Mary knap werk gedoen en al die truie baie netjies aanmekaar gewerk, reg vir aflewering aan HAM.. Reik na herstel is ’n organisasie sonder winsbejag wat ondersteuning aan veral vroue met borskanker bied.
Ingrid het kort ná haar eie diagnose van borskanker in 1991 by Kansa betrokke geraak en is as eerste voorsitter van Paarl Reik na Herstel in November 1991 verkies waar sy vir 24 jaar gedien het.





