Met die ramptoestand wat verby is en dinge baie meer toeganklik, kan kaas- en wynliefhebbers uitsien na feesbelaaide SA kaasfeeste vanjaar.

Daarbenewens kan fees-entoesiaste dadelik baat deur ’n kaartjie teen ’n verlaagde prys te koop.

“Die president het ons ’n rede gegee om fees te vier, so nou kan mense dit aangryp,” sê Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, die organiseerder van die veelbekroonde SA Kaasfees sedert 2002. “Ons verwelkom die ekstra feesgangers met ope arms en is dankbaar dat ons hierdie besonderse ervaring teen ’n meer bekostigbare prys kan aanbied.”


Eenders, maar avontuurlustig anders

Die SA Kaasfees innoveer vanjaar deur oor twee naweke by twee verskillende bestemmings aan die Weskus en in die Wynland op te wip: Saterdag 23 en Sondag 24 April by Groote Post buite Darling aan die Weskus en Saterdag 30 April, Sondag 1 Mei en Maandag 2 Mei by Sandringham buite Stellenbosch. Kaartjies kos R290 per dag. Die feestye is van 10:00 tot 18:00 daagliks.

Volgens Ehlers kan hulle die kapasiteit van besoekers nou by Sandringham verhoog en ’n ekstra feesdag op die Werkersdag-vakansiedag toevoeg: “Ons het die fees oorspronklik beplan met die regulasies wat van toepassing was, maar ons aanbod voortdurend aangepas om besoekers en uitstallers tegemoet te kom.”

Ehlers sê gaste kan dieselfde unieke ervaring van gehalte, waarvoor die SA Kaasfees al twee dekades bekend is, verwag. “Almal ken die Sandringham-landgoed as die tuiste van die SA Kaasfees, terwyl Groote Post ’n spesiale ervaring bied om plattelandse gasvryheid op die ongelooflike Pentz-familie se geskiedkundige 18de eeuse plaas te geniet.”

Ontdek ’n fees van opwip-ervarings by die SA Kaasfees

Jou toegangskaartjie koop vir jou inderwaarheid ’n hele fees opwip-ervarings:. “Kaas dit en geniet dit”: Die hartjie van die SA Kaasfees bly die unieke ervaring om die grootste verskeidenheid kase – ou gunstelinge én innoverende nuwes – te kan proe en te koop.. “WineFest, BeerFest, Gin’OClock”: Kom ervaar ’n uitgesoekte versameling bekroonde wyne, boetiekbier en -jenewer kuier-kuier – jou toegangsfooi sluit immers ’n eksklusiewe steellose SA Kaasfees-glas in.. “Proe dit eerste”: Talle uitstallers benut die SA Kaasfees as ’n platform om nuwe produkte bekend te stel en die mark te toets – ontdek dit hier voordat dit op die winkelrakke verskyn.. “Standard Bank Travel & Taste”: Kaas trou hier met wyn, bier en elke nuwe gier saam met bekende glans-sjefs en wynkenners. Kom kyk, luister en proe sonder ekstra koste. Elke dag om 13:00 sal die sjef Tiaan Langenegger ’n voorsmakie van sy splinternuwe Tiaan Proe-televisieprogram gee saam met Ladismith Cheese (met sy akteurmaat Neels van Jaarsveld wat op 23 April en 1 Mei ’n draai aan sy tafel maak). Die sjef Isabella Niehaus, wat verlede jaar in Parys ’n prys vir haar kookboek Duinhuis gewen het, bring haar beroemde gerookte snoek-kaaskoek saam.. Kom leer ook meer oor die pas en proe van wyn saam met kenners van die Chenin Blanc-vereniging, die Groote Post-wynmaker Lukas Wentzel en die jare lange SA Kaasfees-gunsteling, die oorspronlike glans-sjef Jenny Morris.. “#SupportSmallCheesemakers”: Kom ondersteun entrepreneurs wat ondanks talle uitdagings van heinde en ver kom om hul unieke handgemaakte kase aan kaasliefhebbers bekend te stel, moontlik gemaak in vennootskap met die Wes-Kaapse departement van landbou.. “Cape Made: Taste the Alternatives”: ’n Vars-van-die-plaas-af-versameling alternatiewe produkte soos olywe, tapenades, bessies, sampioene en selfs boegoewater en hidroponiese kruie te kies en te keur.. “Boetiek is bobaas”: Ondersteun boetiekvervaardigers terwyl jy nuwe smaakervarings leer waardeer – van koedoe-salami tot jenewer met heuning, amandel, boegoe, aarbei of chai.. “Die Ladismith-kaaskerfkompetisie”: ’n Daaglikse hoogtepunt – skryf gratis by die fees in (plek is beperk). Bewys jou kreatiwiteit, kerf ’n kaas en wen groot pryse!. “Die Hollard Band Stand”: Gewilde kunstenaars tree op – van Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Watershed, Ard Matthews en Kurt Darren tot die rockgroep Flat Stanley, wat vir die eerste keer in jare optree, die nuwe gunsteling Will Linley en talle plaaslike kunstenaars.. “Foodies #GoingPlaces”: Kosstalletjies bedien watertandgeregte met net nog meer kaas!. “Wees veilig”: Maak gerus gebruik van pendeldienste en taxi’s vir ’n fees vol gemoedsrus. Koop kaartjies hier

Kaartjies is by Webtickets en Pick n Pay te koop. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. Slegs ’n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar. . Besoek www.cheesefestival.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article