Ek het mos ’n broertjie dood aan mense wat nie daai klein dingetjies in die lewe na waarde skat nie – daai klein dingetjies soos baie dankie, goeiemôre, asseblief, sal dit jou pas?
Dit is al by die meeste van ons, glo ek, van kindsbeen af ingeskerp, maar iewers het hierdie klein dingetjies in die lewe hul eie koers begin inslaan, lyk dit my. Laat my sommer dink hoe my ma ons as kinders altyd die leviete voorgelees het. “Onthou, as jy by ander mense of onder hul dak is, wil ek my nie skaam vir die kind wat ek in die lewe gebring en opgevoed het nie!”
Die klein dingetjies in sy vele gedaantes sien en ervaar ’n mens heel dikwels in die werksplek. Dis asof daai kode van ordentlike maniere net heeltemal vervaag het, want die lysie van take vir die dag gil vir aandag.
As jy wel ’n skramse hallo hoor, moet jy jouself gelukkig ag, want wie weet of jy dit sommer gou weer gaan hoor – om nie eens te praat van al die e-posse of groepboodskappe waar die opdragte soos ’n weermag-drilsessie in die werksplek deurgevuur word nie.
Geen wonder soveel van ons in die werksplek word later afgestomp en smeer later jou agterent aan alles af wat van bo af kom nie – doen net die broodnodige om die skippie soort van bo water en die salarispakkie aan die einde van die maand gered te hou.
Natuurlik is die werksplek nie ’n speelparkie nie, maar ek kan my indink watter groot verskil dit kan en sal maak as die werknemer kan ervaar dat hy of sy ’n onmisbare skakel binne die groter geheel is –bloot deur daai professionele, dog vriendelike en warm e-pos.
Of, nog beter – deur daai van tyd tot tyd inloer en in-persoon dankie sê vir die harde werk en ekstra ure ingesit. My hart klop nou nog warm as ek terugdink aan ’n organisasie wat hier aan die einde van die jaar met bonustyd vir elkeen van sy werknemers ’n dankie-sê-brief geskryf het. Die brief het my naam opgehad en daai brief het my so beïndruk en geïnspireer om die daaropvolgende jaar nog meer in te sit vir die werk waarvoor ek so lief is.
Dis egter ook in ons gemeenskappe waar ek gewaar dat die klein dingetjies in die lewe ook al meer besig is om te vervaag. Dalk is dit net ek wat dit waarneem, maar dis asof ons kinders nie meer weet van ouer mense eerste groet nie of vir die bejaarde jou stoel aan te bied om te sit nie, om nie eens te praat van uithelp met daai takies in en om die huis nie.
My respek en waardering aan die kinders wat dit wel doen. My van tyd tot tyd inloer by ’n jeugsentrum in die gemeenskap waar ek woon, is hier vir my ook ’n barometer van hoe erg die gety al gedraai het. Ek is gelukkig as daar twee of drie van die kinders is wat bedagsaam groet. Terselfdertyd kan ek die moeite raaksien van hulle wat geduldig en met liefde die opvoedingstaak by so ’n sentrum by ons kinders probeer vaslê. My vraag en gepaardgaande bekommernis is egter of die einste taak nie by die ouerhuis moet begin nie.
Noem my dan maar outyds, maar ek is daarvan oortuig dat ons as volwassenes nie ons taak kan en mag versuim om waardige voorbeelde van gesonde waardes by onsself, die kerngesin, familie en gemeenskap in te skerp nie, want kan jy jouself indink hoe ons gemeenskappe daarsonder sal uitsien?
En of dit wel die geval in baie van ons gemeenskappe is of nie, beskou ek dit my plig en voorreg om teen die stroom op te swem en my daaglikse klein dingetjies in die lewe uit te leef.
Dit is juis met hierdie ingesteldheid dat ’n stuk energie losbreek wat aansteeklik is vir die mense naby of rondom jou.
Daai hartlike “goeiemôre” sommer so uit die bloute of daai “dankie vir die lekker bordjie kos – dit was sommer diep lekker”!
En die beloning wat daarmee saamgaan as veral ons kinders en jongmense die waarde van hierdie klein dingetjies in die lewe begin snap, is prysloos. Dit het ek daai dag gesien toe ’n jongman by ’n leierskapsprogram waarby ek betrokke was, so opreg en waarderend kom dankie sê vir die trippie na die Waterfront in Kaapstad. Hy was nog nooit in die Kaap nie; hy het nog nooit die see gesien nie. Hy wil net baie dankie sê vir die geleentheid wat aan hom gebied is. Dit sal hom vir ewig bybly.
Of dit by die werksplek, gesin, in die verbygaan of sommer net iewers is, kom ons vergeet nie daai klein dingetjies in die lewe wat ’n groot verskil kan maak nie.
Ons kan daai verskil wees!




