Met die Paasnaweek hier is daar min wat so lekker snoesig die siel inkruip soos ’n lekker warm Paasbolletjie, gesmeer met baie botter, en saam met ’n koppie boeretroos of tee geniet word.
En deesdae kan ’n mens van allerlei Paasbolletjies kies en keur. Die feit bly egter staan – nie alle Paasbolletjies is dieselfde nie.
Dus het die span van Paarl Post vandeesweek die week afgeskop met ’n “blinde proe” van Paasbolletjies by die vier grootste handelaars in die dorp, naamlik Checkers, Spar, Woolworths en Pick n Pay. Die Paasbolletjies is almal op dieselfde manier warm gemaak en met ’n lagie suiwer botter gesmeer. Almal behalwe een werknemer, wat buite stemming gebly het, het die bolletjies noukeurig geruik, bevoel, bekyk en geproe om vas te stel wie die kroon as Paasbolletjie-koning kan dra.
Hoewel een handelaar se bolletjies glad nie die mas opgekom het nie, was dit maar ’n taamlik moeilike besluit om die uiteindelike wenner aan te wys.
Uiteindelik was Woolworths se Paasbolletjies ’n duidelike wenner omdat die broodjies met aansienlik meer geur gepak was.
Baie kort op sy hakke was die naaswenner die bolletjies van Zomerlust-Spar in die Paarl, om presies te wees.
En as ’n mens die kans moet waag, kan gesê word dat hulle eintlik eerder kop-aan-kop was, met die Spar-bolletjies effe soeter vir diegene met ’n soettand.
Pick n Pay se bolletjies was ook nie te versmaai nie en sy tekstuur was lig en sag, maar hy is wel opsigtelik heelwat kleiner as die res.
Spar wen sekerlik die prys as die plompste van die vier.
Maar die Checkers-bolletjies was baie teleurstellend – droog, klontjierig en byna geurloos.
Woolworths se Paasbolletjies kom oudergewoonte met ’n stewige prys van R31,90; dié van Spar is ’n paar rand minder en kos R24,90 en dan kos dié van Checkers en Pick n Pay albei R16,99.. Paasbolletjies het dalk hul oorsprong in Brittanje, maar tydens die Paasvakansie is die lekkerny byna ’n stapelvoedsel in Suid-Afrikaanse huishoudings.
Die vermoede is dat die broodjies in die 1700’s in Engeland ontstaan ??het, en het bekend geword toe ’n monnik die rosyntjie gelaaide speserybolletjie ter ere van Goeie Vrydag met ’n kruis gemerk het.
Die kruis, tipies op die broodjie se bokant, is tradisioneel bloot ’n meelpasta.
Met verloop van tyd het die Paasbolletjie-resep ontwikkel om verskeie smake te akkommodeer, soos rosyntjievrye weergawes asook onkonvensionele weergawes soos die sjokolade-Paasbolletjie.
Paasbolletjies is ook ’n gewilde pasmaat met die Kaapse koningskos oor Paastyd – kerrievis.





