’n Egpaar van Hermon naby Wellington het verlede week in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting van hul pleegkinders.
Die egpaar het Vrydag weer in die Paarl-landdroshof verskyn in ’n saak waarby twee meisies van onderskeidelik 11 en 14 jaar betrokke was.
Volgens die staat het die voorvalle van verkragting oor ’n tydperk plaasgevind, maar die egpaar, onderskeidelik 51 en 53 jaar oud, is verlede jaar op 1 Februarie eers in hegtenis geneem nadat die twee slagoffers hul stilte verbreek het.
Die slagoffers is die pleegma se susterskind.
Daar word aangevoer dat die pleegpa die meisies om die beurt verkrag het in die teenwoordigheid van die pleegma, wat hulle ook tydens die voorvalle vasgehou het.
Die pleegma word dus ook van verkragting aangekla.
Dit is nog onbekend hoe die kinders in hul pleegsorg beland het aangesien hul ouers op ’n nabygeleë plaas werk.
Die beskuldigdes het ook glo ’n voorsorgsentrum op die dorp bedryf. Die beskuldigdes het nog nie gepleit nie. Hul name mag ook ingevolge die wet nie bekend gemaak word nie om die minderjarige kinders se identiteit te beskerm.
Die saak is uitgestel tot 5 Mei vir ’n Paarl-streekhofdatum.
– Samuel Walters




