’n Gewilde kursus word in Mei aangebied met die fokus op die teoretiese en praktiese sy van argivering.
Die bekende argivaris Petria de Vaal bied van 25 tot 27 Mei weer ’n inleidende, tweetalige argief-werksessie by die Taalmonument in die Paarl aan. Dié gewilde driedagwerksessie, wat vanjaar die sewende keer aangebied word, is geskik vir bibliotekarisse, museum- en erfenisbeamptes asook dokumentering- en argiefassistente.
De Vaal is ’n gekwalifiseerde argivaris met baie jare ervaring in rekordbestuur en argivering. Sy het deur haar werk as raadgewer, navorser, erfenisbeampte, projekleier en afrigter ontdek dit is noodsaaklik en belangrik vir biblioteke, dokumentasiesentrums, museums en ander verwante dissiplines om saam te werk en meer oor argivering te leer.
“Personeel wat nie argivarisopleiding ontvang het nie, word dikwels aan die diep kant ingegooi om na hul organisasies se ongepubliseerde dokumentversamelings om te sien,” sê De Vaal. “Hierdie inleidende driedaagse werksessie sal aan alle inligtingsbeamptes die nodige opleiding verskaf; geen voorafkennis word benodig nie.”
Die werksessie sluit praktiese sessies in en fokus op onderwerpe soos die verskille tussen biblioteke, argiewe en dokumentasiesentrums; insameling en aanwins; waardebepaling (insluitend die waarde van rekords asook afskryf-instruksies); sortering en rangskikking; beskrywing/indeksering; bewaring; rampbestuurplan en wenke oor die ontsluiting van argiewe.
Die kursus kos R2 000 per persoon en word daagliks van 09:00 tot 16:00 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument aangebied.
Besoeke aan die monument asook koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet na hul eie middagete omsien of hulle kan die ATM se koffiehuis ondersteun. . Vir besonderhede en besprekings, bel Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied jaarliks ’n hele reeks kursusse en werksessies aan wat op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede fokus.
Vanjaar se program sluit ’n Arabies-Afrikaans-werksessie, boekherstelwerk (Oktober) en fotografie (November) in. Voorstelle vir bykomende werksessies oor verwante onderwerpe is welkom.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte is beskikbaar.
Die taalmonument en taalmuseum is oop vir besoekers. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle volmaanpieknieks insluit.



