‘n Reuse daggaplaas en verwerkingsaanleg is in die Paarl ontdek.


Die polisie het vandag toegeslaan op miljoene rande se onwettige verwerkte en onverwerkte dagga, op wat oënskynlik ’n dagga bewerkingsplaas in Klein Drakenstein, Paarl, is.

Die polisie het inligting ontvang oor ongerymdhede op ’n gedeelte van Dekkersvlei-plaas op die Keerweerderpad. Verdere ondersoek het daartoe gelei dat ’n taakmag saamgestel is en daar is vandag op die perseel toegeslaan.

Die polisie het afgekom op ’n groot daggaplantasie, ’n bewerkingsaanleg waar dagga verwerk word, asook ’n groot hoeveelheid voorbereide dagga wat gereed was vir die mark.

Duisende rande in kontant is ook gevind asook verskeie vuurwapens. Dit is nog onseker of die vuurwapens wettig is.

Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisname van 25 verdagtes, almal plaaslike inwoners, tussen die ouderdomme van 18 en 55.

Weens die aansienlike hoeveelheid vars en verwerkte daggaprodukte moet die geraamde waarde van die dwelms nog vasgestel word.

Die verdagtes sal in aanhouding bly totdat hulle Maandag in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklag van dwelmhandel.

Die omstandighede rondom die saak word deur provinsiale speurders ondersoek met hulp van Paarl-polisie. Nog arrestasies kan gemaak word soos ons die ondersoek ontvou.

Die Wes-Kaapse kommissaris van polisie, lt.genl. Thembisile Patekile het die eenhede wat vir die operasie verantwoordelik is, geloof en ’n streng waarskuwing aan dwelmhandelaars gerig dat hul onwettige handel hoog op hul polisiëringsprioriteitslys sal bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article