Frustrasie onder private kontrakteurs van die Waste Management Association (WMA) het effens bedaar nadat ’n mislukte poging om stortingstariewe met die plaaslike munisipaliteit te bespreek, uiteindelik met ’n opvolgvergadering reggestel is.

Die tydperk om kommentaar oor die Drakenstein-munisipaliteit se konsepbegroting en beplande tariefverhogings te lewer, het intussen op 29 April reeds verstryk.

Lede van die vereniging poog al sedert Desember verlede jaar om met Thys Serfontein en Lorraine Cyster, die verantwoordelike burgemeesterskomiteelede, te vergader om afvalstortingstariewe en ander kwessies rakende vullisverwydering te bespreek.

Kommunikasiegapings, botsende kalenders en siekteverlof van amptenare het egter na bewering veroorsaak dat ’n vergadering, wat uiteindelik op 4 Mei tussen die WMA en Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, gehou sou word, nooit plaasgevind het nie. Dit was nadat amptenare glo die WMA belowe het om minstens een keer per maand met die vereniging te vergader.

Die mislukte vergadering het WMA-lede se kommer oor bestaande kwessies vererger omdat ’n dringende versoek opnuut vertraag is om stortingstariewe voor die finalisering van die nuwe begroting te hersien.

In reaksie hierop het Esau onder meer aan Paarl Post gesê: “Die vereniging was nog altyd welkom om die vasteafvalbestuurskantoor te besoek en inligting te bekom of navrae te doen. Inligting kan op so ’n wyse vinniger versprei word en op die WhatsApp-groepe van die vereniging gedeel word.”

Intussen is nóg ’n vergadering vir 10 Mei by die Wellington-sakekamer gereël, en hierdie vergadering het volgens Allen Harris, voorsitter van die WMA, wel ’n positiewe uitkoms gehad.

Hy het bevestig dat Serfontein, Cyster en Esau teenwoordig was om die private kontrakteurs se kwelpunte te bespreek.

“Ons het ter goedertrou ooreengekom dat die munisipale amptenare datums sal bevestig vir toekomstige, gereelde vergaderings met die WMA om die probleme finaal hok te slaan.”

Harris glo dié vergaderings sal moet voortduur totdat al die probleme opgelos is.

“Wanneer die probleme finaal opgelos is, sal dit nie meer ’n noodsaaklikheid wees om kosbare tyd aan vergaderings af te staan nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article