Die twee plaaslike vrugteboere wat teregstaan op aanklagte van moord ná ’n skietvoorval verlede jaar, sal eers oor drie maande – in Augustus – hoor wanneer hul saak na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.
Johan Woest en JT Basson het verlede Maandag in die Paarl-landdroshof verskyn, waar die saak in verband met die skietdood van Chatwell Rogers (40) tot 8 Augustus uitgestel is.
Hul prokureur, William Booth, het gesê die ondersoek na Rogers se dood is afgehandel. Hy het weer daarop aangedring dat toegang tot Rogers se lyk vir ’n onafhanklike forensiese ondersoek verleen moet word, hoewel Rogers reeds veras is.
Woest (68) en Basson (65) is in Desember op borgtog vrygelaat ná hul inhegtenisneming in verband met ’n voorval waar Rogers met ’n haelgeweer in die rug geskiet is terwyl hy na bewering van die twee boere af weggehardloop het.
Die staat beredeneer ’n saak van moord met voorbedagte rade, terwyl die boere se regspan sê hulle het in selfverdediging opgetree.
PaarlPost het voorheen berig Rogers was na bewering ’n onwettige vrugtesmous. Sy familie het destyds hierdie aantygings verwerp.
Die skietvoorval het op die Sonstraal-brug naby die N1-afrit net buite Paarl plaasgevind. Dit is glo slegs ’n paar kilometer van die twee boere se plase af.
Lees die breedvoerige berig rakende vrugte-diefstal soos geskryf deur Gerrit Rautenbach op bladsy 20. . Bron: Netwerk24



