In die denke van ’n dief is daar hope sagte teikens om diefstal of gewapende roof te pleeg, maar ses verdagtes het Wellingtonners op ’n stil Sondag stomgeslaan toe hulle op die dierehospitaal toeslaan.

Die stasiebevelvoerder van Wellington-polisie, kol. Johan Barkhuizen, het aan Paarl Post bevestig dat ’n gewapende rooftog by Wellington-dierehospitaal kort voor 12:00 op 29 Mei plaasgevind het.

“Twee mans het by die Wellington-dierehospitaal ingegaan en ’n handwapen op een van die ontvangsdames gerig toe sy hulle hoflik ontvang en gevra het waarmee sy kan help.”

Die slagoffers se hande is met halsbande vasgebind nadat nog twee mans by die perseel ingestap en die eerste twee verdagtes kom help het.

“Die vier rowers het die kluissleutel opgespoor en ’n onbekende bedrag geld geroof.”

Kort daarna het nóg twee boewe ingeloop en die vier verdagtes gehelp om nog geld, twee selfone en ’n stel motorsleutels te steel.

Barkhuizen sê die ses verdagtes het in ’n Hyundai-motor, wat aan een van die slagoffers behoort, van die toneel af gevlug.

“Die Hyundai is later die middag in Newtonstraat, Wellington, opgespoor, maar die verdagtes was toe al lank weg. Die gesteelde selfone is langs die pad opgetel.”

Die bestuur van die Wellington-dierehospitaal het bevestig twee van hul werknemers was tydens die voorval op die perseel.

“Gewapende veiligheidsmanne is na die toneel ontbied en, hoewel ons werknemers hewig getraumatiseer was, is hulle geen leed aangedoen nie,” het Gillian Oosthuizen, die bestuurder, gesê.

’n Klagte van sakeroof word deur die polisie ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Wellingtonners word gewaarsku

Barkhuizen sê ’n toename in bankrekening-bedrog is by die polisie aangemeld.

“Ons het ’n probleem met voorvalle waarin rekeninghouers deur sogenaamde agente van hul bank gebel word. Slagoffers word dan gevra om hul persoonlike besonderhede vir hul bankdienste te bevestig.

“Ons wil by die gemeenskap pleit om geensins belangrike besonderhede oor hul bankrekeninge in telefoonoproepe bekend te maak nie.”

Barkhuizen beveel sterk aan dat mense in só ’n geval eerder hul bankdienste persoonlik by hul naaste tak gaan raadpleeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article