Op ’n koue Sondag-wintersoggend het die Wellington-rugbyklub Wellington se haweloses met ope arms ontvang.
Die Wellington-rugbyklub is tans vol positiewe energie en besig om weer sy voete te vind. Met ’n onoorwonne seisoen tot dusver voel die klub en sy spelers dis goed om in die gemeenskap terug te ploeg.
Hulle het G-Voucher, die haweloses-projek, genader en die bal geskop.
Wellington se spelers en die bestuur het persoonlik tyd voor die potte deurgebring en sop en brood na G-Voucher gevat, waar hulle eers ’n kort diens voor die ete gehou het.
Terwyl die lofsang aan die gang was, het die manne voorbereidings vir die maaltyd begin tref en dit was nie lank nie toe word die eerste koppie sop geskep.
Lekker musiek is gespeel om ’n feesagtergrond te skep terwyl hulle die sop en brood uitgedeel het.
Die manne was heel trots op hul sopmaak-vermoë toe party haweloses ’n derde keer vir nog sop gevra het.
Hulle het heelwat komplimente oor hul goeie werk ontvang.
Die klub het ’n ekstra 12 brode wat oorgebly het aan die Silwerkruin-tehuis vir bejaardes geskenk.
Die klub het G-Voucher en die Silwerkruin-tehuis vir bejaardes bedank vir die geleentheid wat hulle die klub gegee het, en die spelers en ander lede van die Wellington-rugbyklub sien daarna uit om die gemeenskap deel te maak van hul volgende uitreikprojek om weer die bal deur die pale te skop.





