Net soos die koeëlronde pieke van Paarlberg oor die vallei uitkyk, waak ’n man oor die berg en sy belange.
Dié man is Lindsay Lewis, ’n natuurbewaarder van die Drakenstein-munisipaliteit-gemeenskapsdienste se parke-afdeling.
Lindsay is twee jaar gelede deur die Drakenstein-munisipaliteit as natuurbewaarder en bestuurder van die Paarlberg-reservaat aangestel. Hy is grootliks verantwoordelik vir die bewaring van die berg.
“Ek het baie lief geword vir ons pragtige berg met al sy hidden gems. Ek is mal oor die berg-lewe; dit is vir my ’n kalmerende ervaring. Hier is nou wel slange, skerpioene en luiperds in die nag, maar ek respekteer die natuur rondom my en is so bevoorreg om dié prag te bewaar.”
Sy daaglikse take behels die bestuur en beplanning van werk vir sy span wat vir die skoonmaak van kampe, paaie en geriewe verantwoordelik is.
“Ek is eintlik ’n veldwagter van nature en hou daarvan om deur die veld te stap en rotse te klim waar ek my omgewing en biodiversiteit die beste kan bestudeer en alles aanteken. Hier is so baie verskillende plante, insekte en voëls waarvan ek elke dag opnuut leer.”
Sy waarneming van plante en diere teken hy op INaturalist aan, wat dien as ’n databank wat op sy foon in sy broeksak tussen al die klim en klouter op die berg pas.
“Ek geniet dit ook baie om omgewingsinligtingsessies vir kleiner gehore of besoekers te hou en die jeug op die staproetes in die berg te neem en hulle oor die biodiversiteit en kenmerkende granietrotse te vertel.”
Lindsay het sy diploma in natuurbewaring in 2017 deur Unisa voltooi en verlede jaar ’n gevorderde diploma hierin verwerf. Hy het ook verskeie ander kursusse wat in natuurbewaring van belang is, voltooi. Dit sluit boomkunde, projekbestuur, brandbestryding, die bestuur van probleemdiere en slanghantering, ekologie ens. in.
Sy ervaring strek van die land tot by die see.
“Ek het nou 12 jaar ervaring in verskeie reservate, maar ek het my loopbaan as student in 2008 hier onder die toesig van die destydse natuurbewaarder van Paarlberg begin.
“Daarna het ek vir die beheereenheid vir indringerspesies by die Tafelberg- nasionale park gewerk, waar ons hoofsaaklik indringerplante beheer het.
“In 2013 het ek ook ’n geleentheid as mariene-veldwagter by die De Hoop-natuurreservaat gehad, en daar was ek meer in marienebewaring en wetstoepassing op die see bedrywig.”
Talente vir die natuur het Lindsay al van kindsbeen in Wellington gekweek, waar hy by die Laerskool St. Albans en Hoërskool Bergrivier skoolgegaan het.
“Van toe af het ek die biologie- en stapklub gelei en was ook deel van die eerste Wellington Scouts, waar ek later die troop leader geword het.”
Dit het hom ’n sterk fondasie gebied, aangesien hy dié daaglikse kragte moet inspan om patrollies deur die reservaat uit te voer.
Só maak hy seker dat besoekers veilig is en die geriewe, kampe en paaie skoon bly.
“Ons doen ook waarneming vir onwettige aktiwiteite soos plante en diere wat geoes word, en ook vure in die brandseisoen.
“Meer voetpatrollies word in die besige somerseisoen gedoen om seker te maak ons staproetes is skoon en veilig, wat uitdagend word weens ’n tekort aan finansiering en personeel.”
Dit is ’n beroep vol onverwagse opwinding en ontmoetings.
“Die opwindendste is wanneer ek iets teëkom wat skaars is om te sien, soos ’n verbygaande luiperd, of wanneer jy skielik moet vries in die nabyheid van ’n slang. Die opwinding en gewoel gedurende ’n bergbrand en die moeite en sweet om ’n beseerde stapper uit die berg te dra, is alles die moeite werd.”
Oor diere is Lindsay baie erg, maar hy bieg hy is meer in sy noppies met plante.
“Die berg is vol wonderlike kleure en skakerings van blomme in die veld op ’n sekere tyd van die dag. Ek word opgewonde wanneer die somervoëls, soos die geelbekwou (Milvus aegyptius parasitus, of Yellow-billed Kite) in hul horde by Nantesdam tussen Desember en Januarie broei.”
Somer is sy gunstelingseisoen op die berg wanneer die warm weer kom. “Ek is dol oor lente- tot vroegsomerseisoene – dis wanneer die hele berg lewe en nuwe plante sigbaar word. Die winter hier is vreeslik koud en nat!”
Hy sê die bergwonings word gedurig deur die vaal muishond en watermuishond, wat in familiegroepe van drie tot vyf beweeg, besoek.
“Hier is baie tarentale en patryse sowel as aasvoëls soos die Jackal Buzzard en visarende by die damme. Hier woon ook ’n muskeljaatkat in ’n huis se dak.
“Otters en ratels kom krap in die dromme in die kampe, en word dan deur die witborskraai verjaag. In die nag is dit meestal die ystervarkies en die klein naguil en gevlekte arende in die uilhuisies. Iets wat spesiaal is om te sien, is die rooikat of luiperd.”
In sy vrye tyd is hy ’n landskap-fotograaf en spandeer hy tyd saam met sy vrou op uitstappies na ander reservate en plekke.
“Ons maak tuin en het ’n kweekhuisvir groente, chillies en kruie. Ek speel kitaar, doen houtwerk en bou goed. Ek stap gereeld en lees navorsingsartikels wat verband hou met my werk.”





