Twee vroue was die week in Paarl se middedorp slagoffers van gewapende rooftogte.

Die eerste voorval het Maandag (4 Julie) in die parkeerterrein van FNB in die Paarl op die hoek van Hoof- en Commercialstraat gebeur.

Volgens die slagoffer het sy haar voertuig geparkeer en uitgeklim om bank toe te stap toe twee onbekende mans haar genader het. Sy het na haar voertuig probeer terughardloop, maar het in die proses geval.

Die verdagtes het haar agternagesit en een van hulle het ’n vuurwapen uitgepluk. Terwyl die een verdagte die vrou met die vuurwapen gedreig het, het die ander een haar teen die kop geskop. Hulle het met haar handsak, selfoon, ID-kaart en bankkaarte weggekom.

Nadat die mans die slagoffer se besittings geneem het, het hulle in die rigting van die KFC in Hoofstraat gevlug, in ’n onbekende voertuig geklim en weggejaag.

Paarl-polisiebeamptes is besig om kringtelevisiemateriaal van die toneel te ondersoek van waar die verdagtes in die motor gevlug het.

Hulle moet nou ook eers toestemming van FNB kry om beeldmateriaal van die bank se kamera in sy parkeerterrein te bekom.

Een verdagte was in ’n denim, ’n groen top en ’n geel pet geklee, terwyl die ander verdagte ’n beige broek met ’n blou en rooi top aangehad het.

Die tweede voorval het Dinsdag omstreeks 15:30 in Paarl Hoofstraat naby die Toringkerk plaasgevind. Die slagoffer het hier gestap toe sy skielik deur drie mans oorval is. Een van hulle het haar aan die hare getrek terwyl nog een haar met ’n vuurwapen gedreig het.

Hulle het vir haar gesê sy moet haar selfoon uithaal waarna sy dit op die grond gegooi het. Een man het die foon gegryp en die drie het te voet in die rigting van Lady Greystraat gevlug.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

  • Enigiemand met inligting oor die voorvalle kan die polisiekantoor by 021 807 4000 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article