In die Bybel staan geskryf dat die een hand nie moet weet wat die ander hand doen nie, maar hierdie week is daar net weer eens bewys dat dit nie in die politieke speelveld tel nie.
Of wat van die alombekende gesegde “action speaks louder than words”.
Kyk, ons as Suid-Afrikaners ken beslis van leë beloftes en dit laat my nou sommer weer dink aan ’n gesegde – leë blikke maak die meeste geraas.
Suid-Afrikaners is beslis keelvol vir die leë blikke, moeg van al die mooi woorde met geen merkwaardige aksies nie en wanneer daar uiteindelik aksie is, word dit uitbasuin vir almal om te hoor wat vermag is.
Maar sou die lang toesprake van selfopheffing deur politieke partye nodig wees as inwoners van Drakenstein eerstehands die positiewe verandering in die gemeenskap ervaar?
Dit is maar my beskeie mening dat wanneer mense daadwerklike aksies sien, goeie samewerking kry en die gemeenskap betrek word, sal niemand wonder wie het watter boom geplant nie of hoekom die straatligte weer brand nie of hoekom die paaie reggemaak word nie – nee, die mense sal weet wie dit doen en dit waardeer. Eintlik dink ek hulle sal dit meer waardeer wanneer hulle verandering sien gebeur as wat iemand aanhoudend vir hulle vertel wat gaan gebeur en wat het hulle vermag.
Dit blyk my dan nou kompleet te wees asof jakkals maar sy eie stert moet prys.
Verlede week het die dorp van Wellington gewys wat hulle kan vermag as hulle saam staan. Hulle spring self in en maak hul dorp mooi – sonder klomp verskonings – hulle doen dit uit die liefde vir hul dorp en as Wellington weer benoem sou word vir “Dorp van die Jaar”, sou ek sê die inwoners daardie toekenning verdien en nie die munisipaliteit nie. So, met dit gesê, hoop ek Paarl steek ook so ’n bietjie aan by die Wellingtonners, want anders gaan ons seker nog lank moet luister na net mooi woorde.




