Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het aangekondig 1 143 nuwe onderwysposte sal beskikbaar wees vir die 2023 akademiese jaar.
Die Wes-Kaapse LUR, David Maynier, sê die besonderhede van die verspreiding van dié poste moet nog gefinaliseer word as deel van die belanghebbende konsultasieproses.
Die nuwe poste is ’n broodnodige hupstoot vir die onderwysstelsel, en ’n verbetering teenoor vorige jare toe die WKOD toegelaat is om net ses bykomende onderwysposte oop te stel. Die getal oopgestelde poste sedert 2016 het oor die jare toegeneem.
Die toename in onderwysposte wat beskikbaar gestel word, is dus goeie nuus vir talle skole. Meer onderwysers plaas skole in ’n beter posisie om leergeleenthede uit te brei en gehalte- onderwys in die Wes-Kaap te lewer.
Wanneer die WKOD die verspreiding van die poste gefinaliseer het, sal skole in kennis gestel word van hul onderwysertoewysing vir 2023. Dit behoort, soos beplan, einde Augustus 2022 gekommunikeer te word, wat skole die geleentheid bied om vooruit te beplan vir die 2023-skooljaar.
“Ons skoolhoofde, onderwysers en personeel is ons grootste bate, en hulle is altyd gewillig en in staat om hul ervaring en kennis te deel met diegene wat by ons skole aansluit deur ons nuwe postoekennings,” sê Maynier.



