Foto ter illustrasieFoto: Pexels


Twee verdagtes is verlede week in Paarl en Wellington in hegtenis geneem danksy die oplettendheid en samewerking van plaaslike veiligheidswagte.

Die Paarl-polisie het verlede Woensdag ’n verdagte in hegtenis geneem nadat hy ’n fiets uit ’n huis in die omgewing gesteel het.

“Een van ons gewapende veiligheidswagte het patrollies in die Paarlberg-omgewing gedoen toe hy ’n ongeïdentifiseerde persoon op ’n fiets opgemerk het, terwyl ’n inwoner agter hom aangehardloop het,” vertel Warren Cassisa, Paarl-takbestuurder van Fidelity ADT.

“Die beampte het besluit om die fietsryer te stop en ondersoek in te stel tot die gebeure wat dié jaagtog veroorsaak het,” verduidelik hy.

Daar is toe ontdek dat die verdagte toegang tot ’n huis in die omgewing verkry het en met die fiets weggery het.

“Die verdagte is aangehou en aan polisiemanne oorhandig om op aanklagte van huisbraak en diefstal in hegtenis geneem te word,” sê Cassisa.

  • Intussen is ’n welbekende verdagte in ’n onverwante voorval in Wellington vasgetrek toe ’n veiligheidswag op sy voete gedink het.

“Tydens daaglikse patrollies in Bergstraat is een van ons wagte se aandag gelok deur ’n bekende verdagte wat met tuintoerusting langs die pad gestap het,” sê Cassisa.

Die wag het stilgehou en die verdagte ondervra om oor die items wat hy in sy besit gehad het uit te vind.

“Toe die man nie ’n geloofwaardige verduideliking kon verskaf nie, is die polisie ontbied. Lede van die Wellington-polisie het gou opgedaag om die verdagte vir verdere ondervraging weg te neem. Die verdagte was ook aan hulle bekend,” sê Cassisa.

Die Wellington-polisiekantoor se bevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, kan bevestig dat ’n gereelde oortreder in Wellington verlede Woensdag in hegtenis geneem is.

“Die verdagte is met ’n tuinslang in sy besit betrap. Hy het Donderdag in die Wellington-hof verskyn en was tot Vrydag in polisieaanhouding voor hy weer vrygelaat is,” sê Barkhuizen.

Cassisa het met trots die waaksame ADT-wagte gelukgewens.

“Om bewus en waaksaam te wees in jou omgewing is iets wat ons almal deel van ons daaglikse lewe moet maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article