It was not easy – but worth it.” So sê dr. Ronald Philip Barends, wat op 12 November verlede jaar sy doktorsgraad in teologie (sendingwetenskap) by Trinity International Bible University op die ouderdom van 58 behaal het.

Barends gaan egter nie hier met sy studies ophou nie en het aansoek gedoen om ook sy doktorsgraad in onderwys by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) te voltooi.

“Ek poog om hierdie doktoraat klaar te maak op die ouderdom van 62 en dit dan verder te neem met onderwysower­hede,” sê Barends.

Hy vertel toe hy 12 jaar oud was, het hy binne ses maande albei sy ouers aan die dood afgestaan.

“My skoolloopbaan was nie maklik nie. In graad 5 (standerd 3) moes ek die skool verlaat weens omstandighede – hoofsaaklik armoede,” vertel hy.

Nadat hy by sy oom gaan woon het, het hy sy skoolloopbaan hervat.

“My vader het altyd vir my gesê: ‘My seun, kry ’n graad agter jou naam.’ Daardie woorde was my dryfkrag regdeur my lewe.”

Barends het in 1984 op die ouderdom van 20 gematrikuleer en in 1989 sy baccalaureus in teologie by die destydse universiteit van Port Elizabeth voltooi. Dié klasse is destyds aanlyn deur lektore van Manitoba, Kanada, aangebied. In 1995 het hy sy honneursgraad by die UWK voltooi en in 1997 sy meestersgraad.

Barends het ook ’n nagraadse onderwyssertifikaat behaal en sy studies in onderwys voortgesit. Hy het sy onderwysloopbaan by New Orleans Sekondêr begin. Daarna het Barends skoolgehou by Ocean View Sekondêr en hy is tans ’n onderwyser by die Hoërskool Beacon Hill in Kaapstad.

“As ’n onderwyser en ook prediker in die klaskamer wil ek graag sien dat godsdiens weer ’n verpligte vak in die skoolkurrikulum word. Met nederigheid wil ek sê van ’n visserman se kind tot ’n visser van mense het God my gevorm.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article