Die plaaslike brandweerdienste in die Paarl het Vrydagoggend (20 Januarie) hul hande vol gehad nadat die lekkasie van ’n gevaarlike stof in die nywerheidsgebied in Dal Josafat aangemeld is.
Jacqui Sampson, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling, het dié voorval, op die hoek van Oosterland- en Driebergenstraat, bevestig.
Die voorval was by die pakhuis van UPL, ’n landboumaatskappy wat in chemiese produkte, waaronder kunsmis, saadbehandelings en biologiese insekdoders, spesialiseer.
Volgens UPL Suid-Afrika het hulle die situasie onmiddellik onder beheer gebring. Die gebied is kort ná die voorval afgesper en personeellede wat op die terrein was, is onmiddellik verwyder.
“Die verkoelde houer wat die geaffekteerde produk stoor, het ’n termometer wat as gevolg van beurtkrag onklaar geraak het, en dit het daartoe gelei dat die meter oorverhit en rook vrygestel het. Dit het ook daartoe gelei dat die temperatuur in die verkoelde houer bo die optimale temperatuur gestyg het as waarteen die geaffekteerde produk gestoor moes word, wat veroorsaak het dat die geaffekteerde produk uitsit, sy verpakking skeur en uitlek.”
Die maatskappy verduidelik dat die rook wat tydens die voorval waargeneem is, die gevolg was van die verkoelde houer wat gebreek het en nie die chemikalieë wat uitgelek het nie. UPL Suid-Afrika maak dit duidelik dat geen chemiese brand tydens die voorval plaasgevind het nie. Die fasiliteit se rampplan is egter onmiddellik in werking gestel.
“Die brandweer is as deel van die rampplan ingelig en het ’n brandweerwa gestuur, maar dit was uiteindelik nie nodig nie. Finale skoonmaak is in ’n gevorderde stadium met die pakhuisvloer wat vandag (23 Januarie) ’n verdere finale skoonmaak ondergaan. Op hierdie tydstip voorspel ons geen negatiewe gesondheidsimpakte nie en ons sal voortgaan om planne in te stel om die gevolge van enige toekomstige beurtkrag te versag.”
Sampson het verder gesê die munisipaliteit se omgewingsbestuurafdeling sal ook die voorval ondersoek om die omvang van enige moontlike skade aan die omgewing te bepaal. Sy voeg by: “Indien daar wel enige skade is, sal die nodige aanmeldingsprosedures aan die provinsiale departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gevolg word.”
Geen beserings is tydens die voorval aangemeld nie.
- The local fire services in Paarl had their hands full on Friday morning (20 January) after the leak of a dangerous substance was reported in the industrial area in Dal Josaphat.




