Foto ter illustrasie.

Foto: Pexels

Die 43-jarige Jeanette van Zyl, wat strafregtelik vervolg word in verband met ’n bedrogspul van miljoene rande op ’n Wellington-druiweplaas, is borgtog geweier en word in die Worcester-gevangenis aangehou.

Kol. Johan Barkhuizen, die stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, sê sy sal tot haar volgende verskyning in die hof op 22 Februarie aangehou word.

“Nadat die saak in die Wellington-hof hervat word, sal die saak heel waarskynlik na die streekhof oorgeplaas word,” sê Barkhuizen.

Soos voorheen berig, voer die staat aan dat Van Zyl wanvoorstellings gemaak het deur voor te gee dat sy die geld in bankrekeninge van krediteure deponeer terwyl sy dit in haar eie bankrekeninge inbetaal het.

Die beraamde waarde van transaksies kom neer op R11,2 miljoen.

Die saak volg nadat lede van die Wes-Kaapse ondersoekeenheid vir handelsmisdaad optredes uitgevoer het om verdagtes in bedrogsake wat ondersoek word, op te spoor en in hegtenis te neem.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het in ’n aanvanklike verklaring bekend gemaak dat Van Zyl tydens dié optredes in verband met ’n Wellington-bedrogsaak by haar huis in Kuilsrivier aangekeer is.

“Volgens rekords was sy in diens van ’n druiweplaas. Die plaasbestuurder het die direkteur van die plaas in November 2021 in kennis gestel van verdagte transaksies wat glo deur die verdagte aangegaan is,” sê Van Wyk.

“Ná verdere ondersoek is ’n ouditfirma aangestel om ’n oudit van 2019 tot 2021 te doen. Die bevinding was dat meer as 400 (onreëlmatige) transaksies uitgevoer is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article