Twee weerlose babahondjies is Maandag in Groenheuwel, Paarl-Oos, gered nadat kinders in die omgewing die hondjies met klippe bestook het.
Die plaaslike dierewelsynsorganisasie sonder winsbejag, Paarl Rescue Obsessed, het die twee kleintjies ingeneem nadat inwoners hulle in kennis gestel het oor wat met die hondjies gebeur het. Die organisasie bestaan uit ’n wye netwerk vrywilligers in die vallei wat uitreik, mediese behandeling aan diere verskaf en opvoedkundige werk rakende die versorging van plaaslike diere aanbied.
Volgens Bonita Denton van Paarl Rescue Obsessed is die hondjies in ’n oop stuk veld verlate gelaat. Kinders het die hondjies ontdek en hulle onder klippe gesteek.
’n Inwoner van Groenheuwel het die hondjies gaan red en Denton en haar span ingelig oor wat gebeur het. Die hondjies is toe aan die organisasie oorhandig.
“Die hondjies is dieselfde aand by die Wellington-dierehospitaal ondersoek, maar gelukkig is bevind hulle het geen ernstige beserings opgedoen nie. Dit is net die een hondjie wat effens gedehidreer was.”
Denton sê die hondjies, wat in tussen Lily en Suzy gedoop is, is tussen sewe en agt weke oud.
Lily en Suzy is ná hul ondersoek by die veearts terug by een van Paarl Rescue Obsessed se vrywilligers se huis, waar hulle in kwarantyn sal wees om verder seker te maak hulle is gesond. Daarna sal die twee vir aanneming beskikbaar wees.
Denton pleit dat inwoners goeie voorbeelde sal wees vir kinders wanneer dit kom by hoe diere met respek behandel moet word.
“Kinders moet by die huis en die skool opgevoed word om diere met respek te hanteer.”
Inwoners wat graag ’n bydrae wil maak ten opsigte van Lily en Suzy se mediese uitgawes of dit oorweeg om hulle aan te neem of enige vorm van bystand wil bied, kan Paarl Rescue Obsessed via Whatsapp kontak by 067 887 3651 of per e-pos by rescueobsessed@gmail.com





