My seun, skoondogter en kleinseun het op 19 Februarie vanjaar hul seun se verjaardag gevier by Krismiskamp by Paarlberg-natuurreservaat. Nadat hulle gebraai het, is my seun en kleinseun met hul fietse met ’n downhill-roete terug huis toe. My skoondogter het gevolg met hul bakkie.
Met haar terugkeer het sy ongelukkig ’n verkeerde roete verby Britagne-rots gevolg en op ’n baie slegte paadjie beland. Sy het my per selfoon geskakel en was duidelik baie benoud, aangesien sy nie kans gesien het om verder te ry nie. Sy kon ook nie omdraai nie, want die paadjie was baie nou.
My seun was nog op pad terug en sy kon nie met hom in verbinding tree nie. Ek is toe onmiddellik na die natuurreservaat. Dit was reeds 18:00 en die hekke was gesluit. ’n Baie behulpsame beampte, Alfonso Arendse, het my by die hek bygestaan. Hy het onmiddellik met die voorman, Bennie Johannes, per tweerigtingradio in verbinding getree.
Aanvanklik het ek gereken sy is in die rigting van die FM-toring en Bennie is eers in daardie rigting. Sy het toe vir my foto’s en ’n “Google Maps Location” gestuur. Bennie kon aan die foto’s onmiddellik die pad waarop sy was herken. Teen hierdie tyd was dit reeds donker en onweerswolke het opgesteek. Ek is toe saam met hom op die paadjie verby Bretagne-rots. Die pad was werklik rof met diep erosieslote. Volgens Bennie word dit slegs deur stappers en fietsryers gebruik.
My skoondogter was geweldig verlig toe ons om 20:00 by haar kom. Die pad was sleg en ek het besef een foutjie kon beteken dat ons vasval met groot skade aan die bakkie. Bennie, wat agter my gery het, sou ook nie kon verbykom nie.
Einde goed, alles goed. Ek is ewig dankbaar vir die twee beamptes wat nie geskroom het om ons by te staan nie. Ek besef dat hul werksdag reeds 18:00 geëindig het, maar hulle het niks ontsien om ons te help nie.
Bennie en Alfonso, julle is goeie ambassadeurs vir Paarlberg-natuurreservaat.




