’n Video in die besit van Paarl Post oor ’n straatpartytjie en onwettige renjaery in die strate van Wellington, is skokkend.

Soortgelyke makieties gaan deur die jare week ná week in die vallei voort. Dit blyk geen daadwerklike pogings word aangewend om hierdie baie steurende asook lewensgevaarlike tydverdryf hok te slaan nie.

Die munisipaliteit beweer dat hy wel hierdie kwessie aanspreek en van tyd tot tyd optredes in die middernagtelike ure uitvoer om die betrokkenes vas te vat.

Maar, wat hulle ook al doen, maak geen verskil aan hierdie gedrag nie.

Die polisie trek eenvoudig die skouers op en sê dit is die verantwoordelikheid van die verkeersowerhede en wetstoepassers om hierdie probleem die hoof te bied.

En só word die verantwoordelikheidsbal net van die een afdeling na die volgende gegooi.

Die vraag ontstaan dan – woon ons nou in ’n algeheel wettelose vallei juis omdat sulke oortredings nie ernstig opgeneem word nie?

’n Munisipale hof is drie maande gelede op die been gebring – juis om wetsgehoorsaamheid in ons vallei te herstel.

Hierdie hof word immers deur belastingbetalers se geld gevoed, maar gaan dit hoegenaamd doeltreffend wees as ’n behoorlike wetstoepassingsdiens nie gehandhaaf word nie?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article