Die stig van ’n avontuurklub by die Hoër Meisieskool Paarl wakker nie net ’n sin vir avontuur by leerders aan nie, maar help ook om geestelike welstand en persoonlike groei te bevorder.
Die avontuurklub behels ’n samestelling van aktiwiteite wat leerders aan die natuur en buitelewe bekendstel. Die avontuurklub, wat uit 110 lede bestaan, het die jaar goed begin en reeds twee aktiwiteite agter die rug vir Februarie, waaronder staan-roei in die Waterfront en die waterval-staproete by Jonkershoek.
Volgens L’nanda le Roux, hoof van die avontuurklub, is die idee agter die klub om elke kwartaal twee tot drie avonture te voltooi.
“Een keer per kwartaal sal ’n avontuur-aktiwiteit aangebied word, soos abseil, ’n les in branderplankry, staan-roei of perdry, terwyl daar ook elke kwartaal ’n voetslaanroete aangepak sal word waarvoor ons roetes kan kies,” sê sy.
Van die ander lekker aktiwiteite wat die jaar nog voorlê, sluit in ’n zipline, sandplankry, kloofstap en abseil met die hoogtepunt wat in Oktober sal plaasvind wanneer leerders op die Oranjerivier sal roei.
“Na my mening verryk die natuur en buitelewe, tesame met onvergeetlike ervarings, ’n mens se lewe op ’n wyse wat min ander maniere kan regkry. Om nuwe ervarings en geleenthede te hê, om jouself te leer ken, onafhanklikheid te kweek en selfvertroue te bou terwyl jy in ons ongelooflike natuurskoon kan baljaar, is iets wat werklik spesiaal is – veral as dit sommer in ons agterplaas kan gebeur. Dit is dus ’n ongelooflike geleentheid wat ons aan die leerders kan bied vir geestelike welstand, persoonlike groei en avontuurlustigheid,” sê Le Roux.
Le Roux het aan die begin van die jaar belangstellingsvorms uitgestuur met ’n lys avontuuropsies waaruit die leerders kon kies waaraan hulle wil deelneem.
“Ek het wel die weer en seisoen in ag geneem om te besluit wanneer watter avontuur gaan plaasvind,” sê sy.
“Vir baie leerders is hierdie ’n geleentheid vir selfgroei en selfontdekking, asook om aktiwiteite te deel met vriende en goeie herinneringe op te bou,” sê Le Roux.
Volgens Le Roux word daar ook hande gevat met die skool se Eko-komitee om omgewingsbewustheid te bevorder asook hoe interafhanklik die mense, die natuur en jou gesondheid is.





