Die Paarl KK het verlede Saterdag op die Parysveld met 49 lopies teen die Victoriane van Stellenbosch in ’n Boland-premierligawedstryd verloor. Spel is verskeie kere deur reën ontwrig, maar in hul toegelate 35 boulbeurte kon die besoekers ’n teiken van 159 daarstel.
Dit was hoofsaaklik te danke aan ’n aggressiewe beurt van die aanvangskolwer David Christie (44, 5×4, 2×6).
Die enigste ander kolwer wat enigsins ’n indruk gemaak het, was Valentine Kitime (34, 2×4), aangesien die Paarlse linksdraaier Herschelle Poggenpoel (7-0-16-5) sy beste syfers van die seisoen geboul het. Alfredo Adams (7-1-27-2) het van Christie ontslae geraak, terwyl Tylon Matthee, die kaptein Waylain September en Cullen Heugh met een paaltjie elk tevrede moes wees.
Paarl (110) het een van sy swakste kolfvertonings van die seisoen opgedis, met die jongeling Liam Muller (16) wat die beste gevaar het.
Die besoekende Asalahe Tsaka (7-2-10-3) en Gysbert Wege (2-0-10-3) het tot hul ondergang gelei en die Paarlse kolwers sal voortaan gewis meer toewyding in die oorblywende vier wedstryde moet toon.. Die Paarliete speel Saterdag weg teen Worcester United en Sondag weg teen Victoriane.




