Die Tiere se top-kolwer en -bouler van die dag was die kaptein, Jade Adams (links), en Reduwaan Louw. Foto:


Young Peoples se eerste span het Saterdag teen Clanwilliam Essex op die Dal Josafat-sportterrein in hul laasterondewedstryd van die 2022-’23-seisoen te staan gekom.

Die besoekers, wat die loot gewen het, het besluit om danksy die bouler-vriendelike toestande eerste te boul.

Die Tiere het egter ander planne gehad en die besoekers se boulers gekasty en hulle na alle uithoeke van die veld gejaag. Peoples se openingskolwers het Clanwilliam ’n behoorlike loesing gegee met skitterende vertonings deur die kaptein, Jade Adams 151* (190) en Reduwaan Louw 105 (77).

Louw het veral onder die boulers ingeklim en geen genade getoon nie. Hulle het saam ’n eerstepaaltjie- vennootskap van 142 in 21.2 boulbeurte aangeteken.

Essex het vinnig twee paaltjies geneem, maar Adams se tweelingbroer, Wade (35 van 60 balle), het by hom aangesluit en die twee het ’n vennootskap van 108 lopies geniet en verseker dat die Tiere op 333/4 ná hul toegelate 50 beurte eindig.

Essex het aanvanklik goed begin met sy openingspaar Dalian Fredericks 27 (25) en Alshaan Burrows 32 (62). Dié twee was egter al kolwers wat teen die boulaanval van Young Peoples kon weerstand bied.

Die Tiere het Essex vir ’n skamele 119 lopies in slegs 27 beurte uitgeboul.

Vir Peoples het die jongeling Hendrico Albertus die grootste verwoesting gesaai met sy draaiballe en hy het 4/24 in 7 boulbeurte geneem. Hy is goed bygestaan deur Danver Louw 2/9 in 4 boulbeurte en Adams met 2/24 in 4 boulbeurte.

Die Tiere het die wedstryd dus oortuigend met 214 lopies gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article