Private ontwikkelaars van ’n nuwe woongebied in die Paarl het onlangs ’n verhewe spoedbult aangebring by die aansluiting van die Bo Dal-pad en Bartolemeustraat net naby die nuwe uitbreiding.

Volgens Louis Pienaar, Drakenstein se waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, is die verhewe aansluiting gebou na afloop van ’n verkeersimpakstudie wat deur die ontwikkelaars van die Moutain Ridge-woongebied op die hoek van Jan van Riebeeck-weg en Bartolomeustraat gedoen is. Die ontwikkelaars is verantwoordelik vir die oprigting van die winkelsentrum en vulstasie reg langs die nuwe woongebied.

Dit is nie duidelik wat die uitslae van die verkeersimpakstudie was nie en hoekom die verhewe aansluiting aan die ander kant van Bartolomeustraat, waar dit by die Bo Dal-pad aansluit, gebou is nie.

Inwoners is egter onder die indruk dat dit ’n gewone spoedhobbel is wat deur die munisipaliteit aangebring is om te verhoed dat motoriste in Bo Dal-pad jaag.

Pienaar voeg verder by: “Die koste en konstruksiewerk was in hierdie geval die verantwoordelikheid van die ontwikkelaars.”

Voordat enige spoedhobbels, of “verkeerskalmering”, soos Pienaar daarna verwys, aangebring mag word, moet versoeke deur inwoners eers by ’n geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergadering en deur die verkeersentrum ondersoek word.

Die ondersoek word noukeurig gedoen ingevolge die munisipaliteit se beleid en met behulp van nasionale riglyne vir spoedhobbels en veiligheid.

“Indien geregverdig, implementeer ons dié projekte namate die munisipale begroting dit toelaat,” verduidelik Pienaar.

“Die publiek kan ook sodanige versoeke via ons e-posadres, customercare@drakenstein.gov.za, rig. Die versoeke word gehanteer soos en wanneer begroting vir individuele projekte toegewys word.”. The raised intersection installed at the Bo Dal Road and Bartolemeu Street intersection was done by private developers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article