Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Leerders in Wellington vrees nou glad die skoolklok smiddae wanneer hulle deur die skoolhekke verdaag te midde van voort­sle­pen­de geweld en klipgooi-gevegte onder seuns.

Klipgooiery is ’n toenemende tendens wat inwoners en veral kinders in Wellington laat sidder, veral nadat daar verlede Donderdag gevegte voor Weltevrede Sekondêr in Champagnestraat losgebars het.

Die waarnemende bevelvoerder van Wellington-polisie, lt.kol. FS Gordon, het die voorval bevestig en gesê dit kan nie juis aan net bendegeweld toegeskryf word nie.

“Dit is nie juis bendegeweld nie, maar eerder sogenaamde ‘straat-laaities’ of kinders wat klippe gooi en mekaar voor die skool aanrand.”

Gordon het bygevoeg dat planne tussen die skool en veiligheidsnetwerke in die dorp beraam word om leerders en die omgewing veilig te hou, en ten einde die probleem op te los.

“ ’n Vergadering is met rolspelers oor die veilig­heidskwessies gehou. Die Wellington-polisie sal polisiesigbaarheid rond­om die skoolperseel verbeter. Ingevolge die skoolveiligheidsplan is kennisgewingborde sigbaar geplaas om mense, insluitend skoliere, te waarsku oor betreding van die skoolterrein.”

Sy het ook genoem dat ’n opvolgvergadering Dinsdagaand gehou is om verdere veiligheidsmaatreëls te bespreek.

Weltevrede Sekondêr het die klipgooivoorval en opvolgvergadering met owerhede aan Paarl Post bevestig.

Die vergadering is deur ouers, die burgemeesterskomiteelid Christephine Kearns, raadslid Ruth Arnolds, lt.kol. Gordon, onderwysers en die kringbestuurder Lindley Turner bygewoon en ’n plan is beraam om kinders beter te beveilig.

Die tendens het al soveel geweld en ontwrigting gesaai dat leerders hul gevoelens daaroor op sosiale media bekend gemaak het.

“Jy sit in die klas en dink klaar hoe jy vanmiddag gaan hardloop. Die klok mag nie lui voordat die polisie voor die skool staan nie. Jy moet so gou as moontlik van die skool af huis toe vlug, want jy’s bang hulle gooi weer klippe . . . jy’s eintlik te bang om jou voete by die skool uit te sit, want die ‘bendes’ staan reeds en wag voor die skool.”

Só het ’n leerder van Weltevrede Sekondêr op sosiale media sy vrese beklemtoon oor die huidige klipgooiery wat al ’n geruime tyd ook die plaaslike polisie gryshare gee.

By navrae oor dié klipgooiery het die Wellington-polisie se bevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, sy uitdagings aan Paarl Post verduidelik. Hy meen voorvalle van klipgooi ruk weer handuit.

“Klipgooiery gebeur hoofsaaklik deur jong kinders, enige ouderdom, van so jonk as nege jaar,” sê Barkhuizen.

“Soms is dit ’n roekelose speletjie of selfs ’n kompetisie, soms is dit ’n oorlogsone, van waar huise, dakke, vensters, watertenks en motors met klippe bestook word.”

Nie net hou dit hope gevaar vir mense in nie, maar so ook die owerhede wat poog om die gewelddadige insidente te bekamp.

“Ons grootste probleem om die geweld aan te pak is dat dit deur kinders in groot getalle gepleeg word. Die reg beperk ons wat betref die maniere om openbare orde te herstel deur iets soos traanrook of rubberkoeëls te gebruik.”

Barkhuizen meen ook nóg ’n faktor wat die probleem vererger, is die afwesigheid van verantwoordbare ouers.

“Die kinders is ledig en hul aandag word nie op goeie waardes toegespits nie. Die ouers is tussen die chaos teenwoordig en sal eenvoudig net toekyk hoe hul kinders met klippe teen ander mense en besittings uitvaar.

“Hulle doen eenvoudig niks om hul eie jong kinders in toom te hou nie,” sê Barkhuizen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article