Ná ’n lang wag skop die Western Province Rugby Football Union (WPRFU) se liga die naweek af met spelers wat uitsien na ’n harde en uitdagende 2023-seisoen.

Paarl-klub, wat vanjaar sy 140ste bestaansjaar vier, skop sy Super Liga B-wedstryd in die Faure-stadion af, waar hy die moeilike span van Strand gaan aandurf. Strand is altyd ’n goeie en mededingende span, maar Paarl-klub sal in sy feesjaar wil wys dat hy reg is vir die uitdagende Super Liga B-kompetisie wat klubs soos Young Peoples, Vineyards, Kylemore en Franschhoek insluit.

Op Daljosafat C-veld pak die 2022-ligakampioen, Paarl Rangers, vir Young Standards, wat tweede in die 2022-seisoen geëindig het. Beide spanne sal die pas in die Paarlstreek-liga met ’n oorwinning wil aangee.

Hierdie wedstryd behoort die grondslag vir die 2023-seisoen te lê en ’n spannende en senutergende wedstryd word verwag.

Young Gardens, wat vanjaar sy 75ste feesjaar vier, pak die span van Violets, wat sy 120ste bestaansjaar vier, op Daljosafat A-veld. Violets sal wil bewys dat hy sy gloriejare wil laat herleef en behoort goed rekenskap teen Young Gardens te gee.

Op die Daljosafat B-veld pak Riverstones, wat self vanjaar hul 120ste bestaansjaar vier, die span van Simondium. Simondium toon elke jaar beloftes en sal vanjaar wil wys dat hy die span is om mee rekenskap te hou.

Allandale, wat vanjaar sy terugkeer tot die Paarlstreek-liga maak, speel teen Laer Paarl op Drakenstein. Laer Paarl, wat hul ondersteuners ’n beter 2023 skuld as 2022, sal sekerlik op ’n wennoot wil begin.

Young Peoples, Vineyards, Perel United en Albions moet nog ’n week wag voordat hul liga op 22 April begin.

Junior wedstryde begin ook op 22 April met 11 junior klubs wat vanjaar in aksie sal wees.

Saterdag 15 April speel Klein Nederburg Sekondêr teen die Hoërskool Labori op die Boy Louw-veld (veld A en B).

. Aansoeke/tenders vir verkoopsregte vir die 2023-seisoen is nog beskikbaar en enigeen wat belangstel, kan hul aansoeke e-pos aan Jonesjc8@gmail.com.

Toegangsgeld beloop R20 vir kinders bo 6 jaar, R30 vir volwassenes, R10 vir pensioenarisse en R20 per motor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article