Rudolf Erasmus.Foto: Alet van der Walt

Credit: SYSTEM

’n Gevaarlike dog komiese oomblik het hom verlede Maandag (3
April) in die lug oor die Vrystaat afgespeel toe ’n vlieënier, wat van
Worcester na Mbombela (Nelspruit) gevlieg het, ’n Kaapse kobra in sy Beechcraft
Baron gewaar het.

Volgens Rudolf Erasmus, die vlieënier van dié private
vliegtuig wat passasiers van Worcester na Nelspruit vervoer het, het twee ander
vlieëniers die dodelike slang verlede Sondag (2 April) op die vliegtuig se
vlerk by die Worcester-vliegklub gewaar.

Erasmus het verduidelik die Kaapse kobra moes van die vlerk
na die wielput geseil het, wat beteken hy het toegang tot ’n groot gedeelte van
die vliegtuig gehad.

Erasmus en sy passasiers het nietemin besluit om na Mbombela
te vertrek, maar toe hy iewers oor die Vrystaat ’n koue sensasie teen sy rug
voel en die kop van die Kaapse kobra onder sy sitplek sien verdwyn, het hy
besef hy moet kalm bly en so gou as moontlik land.

Volgens Carina Potgieter, ’n passasier op dié vlug, het ’n
klein gedeelte van die slang aan Erasmus se vel geraak en onder sy hemp
ingegaan, maar hy het gelukkig weggeseil.

Volgens Potgieter het almal so stil as moontlik gesit en
“net gehoop dat die slang bly lê”.

Erasmus het ’n noodlanding in Welkom uitgevoer, waarna almal
blitsig uit die vliegtuig geklim het.

Potgieter, wat in die Paarl woon, was saam met haar seun
Carl op pad na Mbombela om tyd saam met hom deur te bring.

Erasmus het vertel nie hy of sy vier passasiers het kennis
oor slange nie en hulle was redelik paniekerig, maar het koel en kalm gebly.

Hy sê hy het gereeld gebede opgestuur na bo, met die
atmosfeer in die vliegtuig wat “stil” was.

“ ’n Mens kon ’n speld hoor val,” het Erasmus gesê.

Hy sê die hele situasie was effe surrealisties en hy nie kon
glo wat aan die gebeur was nie.

Hy sê ook hy was redelik bekommerd oor die hele episode.

Gelukkig kon Potgieter die Boland se bekende slangvanger
Eduanne Niemand skakel om hom oor dié ongewone situasie te raadpleeg, het sy
aan Paarl Post vertel.

Op die vraag of daar ’n manier was om die slang as ’n leek
te benader, het Niemand dit ten sterkste afgekeur.

Sy raad aan hulle was om die gevaarlike passasier in vrede
te laat totdat ’n veilige noodlanding uitgevoer kon word en dit eerder aan die
ervare hand van ’n slangvanger oor te laat.

In Welkom het die slangvanger Johan de Klerk lank probeer om
die slang te kry, maar die ou het goed weggekruip.

Erasmus het toe maar verlede Woensdag (5 April) ná sy ongeskeduleerde
stop in Welkom die pad met sy glibberige passasier aangepak Mbombela toe en
veilig daar aangekom met die slang wat stééds in die vliegtuig skuil en
oënskynlik die Wynland vir die Laeveld verruil het.

Dit blyk die dinge wat in rolprente soos Snakes on a plane
gebeur, is toe nie so vergesog nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article