Die Hoërskool Gimnasium se Liam van der Merwe gaan oor vir een van die skool se pragdrieë in hul eerstespan-wedstryd teen Wynberg.Foto: Surette du Toit

Credit: SYSTEM

Paarl Gimnasium het die naweek weer tande gewys op die rugbyveld en is vasbeslote om boaan die SA skolerugby-puntelys te eindig. Hulle het met 33-11 met Wynberg Boys High klaargespeel.

Die Bloedworse het wel stadig begin en Wynberg het in die eerste 12 minute oorheers met twee strafdoele en ’n drie om voor te loop met 11-0.

Maar Gim herbesin en ’n tweekuns deur Xander Mynhardt (loskopstut), tesame met drieë deur Freek de Kock (regtervleuel), Liam van der Merwe (plaasvervanger-skrumskakel) en Dean Louw (plaasvervanger-haker) sorg vir ’n gemaklike sege vir die Paarliete.

Maar dit is die Hoër Landbouskool Oakdale wat Saterdag vir ’n ware opskudding in die skolerugby-geledere gesorg het toe die span van Riversdal op sy tuisveld die Hoër Jongenskool Paarl met 20-17 geklop het.

Oakdale het nie ’n duit vir die Paarliete se agttal teruggestaan nie en soos Trojane verdedig. Hulle het met desperaatheid geveg om ’n vyfde nederlaag op ’n streep te vermy.

Boishaai het wel een van sy staatmakers, Divan Fuller (flank), vroeg met ’n besering afgestaan.

Die Hoër Landbouskool Boland het ook sy onoorwonne status behou deur die Hoërskool Stellenberg van Bellville met 17-10 te klop. Vir byna ’n halfuur was daar niks tussen dié twee spanne te kies nie, voordat ’n wegbreekdrie deur Turlon Adams (skrumskakel) vir die span van die Agter-Paarl se eerste punte gesorg het.

. Met die skolerugby-posisies vir eerstespanne op 26 Maart was Grey College (Bloemfontein) eerste op die ranglys, met die Hoërskool Paarl Gimnasium tweede en Boishaai derde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article