Die inskrywings vir Huisgenooten Landbouweekbladse Junior Boertjie-kompetisie het van oral ingestroom en so het Wellington se eie “saailing-koningin”, Tayla’s Seedlings, in die top-10 beland.
Die stembus vir die beste Junior Boertjie is oop en die plaaslike boertjie Tayla Prins vra Drakenstein se ondersteuning nadat haar towerboontjiestok soveel hoogtes danksy haar gemeenskap bereik het.
“Tayla’s Seedlings gaan groot!” So deel haar ma, Bronwyn, met Paarl Post.
“Tayla se stalletjie buite ons huis kry nou meer ondersteuners. Sy sukkel nog met haar aqua/hydroponics-stelsel omdat die tenks steeds lek. Ons is die naweek op die plaas om hopelik die oplossing te kry. Die hele motorhuis is nou vol saailinge!” skerts Bronwyn.
Tayla se saailinge-onderneming het sy, met die hulp en ondersteuning van haar huisgesin, in 2021 begin. Sy het intussen ’n lappie grond in Wellington begin huur, waar sy tans groente kweek.
Sy is tans ’n 14-jarige leerder by Hugenote Hoërskool.
In haar eerste onderhoud met Paarl Post het Tayla vertel dat die saadjie van haar onderneming geplant is vanweë haar ouers se motivering om haar eie drome te bewerkstellig.
“Ek het vir my ma-hulle gesê ek wil graag ’n rekenaar besit en my pa sê toe dat ek vir my eie geld moet werk,” onthou sy.
“Twee dae later was ons in ons tuin besig en ek kry die idee om plantjies te verkoop. My pa, Kieryhan, sê toe dis reg en ons het klein begin en die onderneming met R200 van stapel gestuur.”
Tayla het haar groenvingers tot haar voordeel gebruik en kort voor lank het ’n Wellington-inwoner vir haar ’n skenking gegee.
“Ek het niks daarvan vir myself gevat nie, en het dit net so in my onderneming teruggesit om ’n akwaponiese stelsel te bou. My pa het dit vir my in Desember (2021) gebou.”
Maar waar kom die tiener se liefde vir plante vandaan?
“Ek het in kruie en plante begin belangstel toe my ma, Bronwyn, by ons vorige huis ’n groentetuin aangeplant het. Toe ek kleiner was, het ek baie daarvan gehou om in die tuin te speel.
“Dit het ’n besonder positiewe uitwerking op ’n mens om jou plantjies van sade af te sien groei tot ’n stadium waar jy groente kan oes.”
Haar sakemodel is daarop gegrond om groente- en kruie-saailinge te produseer, aan klante te verskaf en sodoende ander se groentetuine ’n effense voorsprong te bied.
“Ek het redelik baie klante wat nogal gereeld by my koop. Ek kweek tamaties, gewone en gekleurde spinasie, broccoli, botterskorsies, lemoenpampoentjies, boontjies, blaarslaai, beet, komkommer, sowel as spek- en olyfbome.”
Tayla glo vas dat alle kinders daarby baat sal vind om meer met die aarde in aanraking te kom.
“Sodra jy met die grond en die groen plante werk, is daar ’n natuurlike liefde vir die aarde wat broei. Ek glo dit help om meer omgewingsbewustheid te skep en so ook die natuur op te pas.”
Alhoewel sy nog baie het om te doen voor sy haar eie rekenaar kan bekostig, is die ervaring wat sy in die tussentyd opdoen die moeite werd.
“Ek wil graag eendag my eie kwekery bedryf, wat my hopelik sal ondersteun in my wens om ’n mediese student te wees. My ander stokperdjie is om wiskundeprobleme op te los.”
In April verlede jaar het sy selfs besoeke by aftreeoorde soos Silwerkruin se bejaardes afgelê om ’n skenking van 140 van haar eie groente-saailinge aan die aftreeoord te oorhandig.
Nie net het Tayla groenvingers nie, maar sy het ’n hart van goud en ’n blink toekoms wat vir haar wag.
Daar is twee kompetisie-kategorieë: een vir jong kinders van drie tot 10, en een vir ouer kinders van 11 tot 18. Jy kan net aanlyn vir Tayla op die Junior Boertjie-kompetisieblad op Huisgenoot.com en Landbou.com stem. Die stembus sluit Sondag 7 Mei.
Die finaliste met die meeste stemme sal as Junior Boertjies van die jaar aangewys word. Die twee wenners sal teen einde Mei aangewys word waarna elke wenner met R10 000 kontant wegstap. Besoek die skakel om vir Tayla te stem: http://bit.ly/3U9umRo





