Ek het die 69-jarige skilder Herman Jacob Stipps ontmoet toe hy by ’n vriend van my, Tommy Goliath, se huis hier in die Paarl ’n muurskildery geverf het.
Dit was ’n belewenis, want dis mos darem nie aldag dat jy die voorreg het om in die teenwoordigheid van ’n uiters talentvolle kunstenaar te wees en te sien hoedat ’n eens kaal muur lewe kry onder sy kwashale nie.
Toe ek die eindproduk sien, het ek gewonder waarom sulke kreatiewe siele soos Herman Stipps geen erkenning kry vir wat hy al tot dusver bereik het nie.
Dit gebeur natuurlik in ander sfere van die samelewing ook. Ons het nodig om vir hierdie mense te sê: “Ons sien wat jy doen, of bereik het. Ons is trots op jou. Jy is vir ons, en die generasie wat nog gaan kom, ’n groot inspirasie.”
In my onderhoud met Stipps het ek gevra hy moet my van sy komvandaan vertel, waarop hy toe met ’n glimlag sê: “Iemand het in ’n stadium vir my gevra of ek weet ons is van Duitse afkoms. Hy het gesê ons mense het langs die Ryn-rivier gewoon. Ek weet nie hoeveel waarheid daarin steek nie, maar dit was nogal ’n lekker gedagte om te dink dat jou voorsate van Duitsland is.”
Stipps is in Langstraat in die Onder-Paarl gebore en hulle moes later verhuis na Paarl-Oos, waar hy en sy gesin vandag steeds woon.
Sy pa, Hannes, was ’n loodgieter, en sy ma, Rhoni, het soos baie mense in die Paarl by die Jones-inmaakfabriek gewerk. Sy pa het gedurig weg van die huis in verskillende dorpe gewerk as gevolg van sy ambag, en “hy het lekker geld gemaak”.
Stipps het ’n suster, Charlene, gehad wat op ’n jong ouderdom gesterf het. Sy ander susters is Constance en Desiree.
“Ek was die een wat moes hol om die nurse te gaan roep. Al wat ek gehoor het, was ’n vreeslike lawaai toe daai meisiekind uitkom,” onthou hy oor die geboorte van Desiree.
Sy twee susters het later die Moslem-geloof aangeneem, en heet nou Kharnita (Constance) en Durea (Desiree).
Stipps se eerste vrou was Rachel (gebore Hock) en uit die huwelik is drie kinders, naamlik Sharon, Heinrich en Denzil, gebore.
Ná Rachel se dood het hy met Mariaan getrou, wat ook destyds ’n grafiese ontwerper was, en hulle het twee kinders, Samantha en Michael.
Van sy skoolloopbaan en op my vraag wanneer hy besef het dat hy ’n kunstalent het, vertel hy: “Ek het by Amstelhof Primêr begin, maar toe ’n ander laerskool, William Lloyd, nader aan ons huis geopen word, is ek soontoe.
“Ek het wonderlike tye daar gehad, met mnr. Davey Samaai as die skoolhoof. Ek was sy top-Engelssprekende outjie in die skool. Hy was baie lief vir my. Daar was ook interessante en prominente ouens saam met my op skool, soos Peter de Villiers, Sydney Bailey, wyle Ivan Siebrits, en ek moet byvoeg dat Ivan later ’n siviele ingenieur geword het op die ouderdom van 23 jaar.
“Die ding wat ons bymekaar gehou het, was dat ons almal saam rugby gespeel het. Ons het so met die tyd geleer dat mnr. Samaai die top-ouens uitgesoek en ons punte deurgestuur het na die Hoërskool Noorder-Paarl en dis waar ons ons hoërskoolloopbaan begin het.”
Hy vertel op hoërskool was meneer Gert Coetzee sy kunsonderwyser.
“Hoewel ek baie lief was vir rugby, het ek as daar ’n opdrag gegee is, dadelik begin teken of verf terwyl die ander groot raasbekke rondhol. Hulle wou net rugby speel en ek wou net verf. Ek het die eerste twee periodes baie geniet, want dit was kunsklasse. Mnr. Coetzee sou in die klas kom, ’n prentjie plak en sê, ‘Daai is ’n stillewe. Verf dit.’
“Ek glo ek is met kuns gebore. Ek onthou toe ek baie klein was, het ek altyd iets gesoek om te doen. As ek byvoorbeeld so ’n klein potloodjie kry, onthou ek, as ek die lood so in my mond gesteek het, het dit jou tong so pers of blou gemaak, hang af wat jy gebruik. Dan het ek al die portrette wat in die huis is, afgehaal en my prentjies met die nat lood agterop geteken. By die skool het ek sommer eenkeer op my eie, wat ek agterna gedink het nogal ’n bietjie ambisieus vir my tyd was omdat materiaal nie ’n tekort was nie, ’n groot vel papier gevat, en toe skulpe geteken, met verskillende vlakke, sommer uit die kop. Mnr. Coetzee was baie beïndruk.
“Op ’n dag het die kunsinspekteur die skool besoek. In ons klas het hy begin om ’n landskap te verf. Dit was met waterverf, wat ’n baie moeilike medium is om mee te werk. Ek het hom staan en kyk, en heel moontlik was sy verfwerk vir my ’n inspirasie, want ek het toe net met waterverf geskilder, al was dit ook baie duur en moeilik,” vertel Stipps.
Sy pa het in die ouderdom van 43 gesterf, en volgens hom het dit ’n hele ommeswaai in sy lewe gebring.
“Ek was toe in standerd 7 en moes my ma help en gaan werk. Ek het as ’n window dresser by Ackermans begin werk. Die ou met wie ek gewerk het, Jeff, was eintlik die main ou en hy kon letters skilder, maar hy het hom flou geskrik toe hy eenkeer agterkom ek kan verf.
“Ek het, terwyl ek poppe moes rondskuif, eendag besluit om babagesiggies en kleertjies te verf, wat hy toe gesien het.
“Op ’n dag het daar ’n man, Michael Lander van die destydse Rhodesië (Zimbabwe), aangekom en my eenkant toe geroep en gesê: ‘I want you to go study sign writing and anything you want, opposite the parade in Cape Town. The company will pay.’
“Ek het sommer daai Maandag met klasse by die studio begin, wat vir ’n jaar geduur het. Ek onthou die studio het so oor die parade uitgekyk. Ná die jaar het ek op my eie teruggegaan om ook screen printing te leer,” onthou hy.
Om vir ’n kunstenaar te vra watter van sy kunswerk wat hy al oor die jare gedoen het vir hom uitstaan, of waarop hy trots is, is seker ’n onredelike vraag. Tog het Stipps onmiddellik geantwoord: “Daar is nogal een waarop ek trots is. Ek raak sommer emosioneel. Ek het daai tyd by Distillers Co. as ’n skilder gewerk en moes ’n 9 meter-muurskildery doen vir ’n Duitser, Ludwich, wat die eienaar is van La Motte Inn in Franschhoek. Hy’t vir my ’n foto gegee van ’n vrou van Griekse afkoms, met ’n rooi rok, met haar hand onder die ken. Dit was nogal ’n uitdaging, want toe ek besig was met die verfwerk, het hy kom sê ek moet ’n sjampanjeglas in haar hand verf. Ek moes natuurlik ’n scaffle gebruik. Ek werk tot vandag toe nog vir hom, soms ook skilderwerk tot in die dak.”
Op my vraag oor hoe hy voel as hy terugkyk, antwoord hy: “Ek kan eerlikwaar sê ek het my beste gegee.”





