Eddie Wallace van Wellington is die wenner van die VIA-werklikheidsreeks, Die groot afskud.


Die wenner van die werklikheidsreeks, Die Groot afskud, is niemand anders as die Wellingtonse Eddie Wallace (37) nie.

Wallace vertel die werklikheid dat hy as die wenner aangewys is het nog nie heeltemal ingesink nie en dat dit steeds vir hom soos ’n droom voel.

Hy en vyf ander deelnemers is sedert Februarie te sien op die kassie waar hulle gepoog het om gewig te verloor.

Deelnemers is in twee spanne van drie elk verdeel en met die ondersteuning van die “afskud-afrigters”, wat bestaan uit ’n sielkundige, ’n dieetkundige en die plaaslike fiksheidsafrigter Olivia Losper, het hulle hul bes probeer om gewig te verloor.

Die spanne het ook meegeding om ’n geldprys van R300 000.

Wallace het aan die begin van die kompetisie 227 kg geweeg en het tot dusver 59 kg verloor.

“My grootste uitdaging in die kompetisie was om myself te motiveer en om myself te motiveer het ek maar altyd aan my klein seuntjie, Eddie, gedink. Dit was maar eintlik my grootste doel om van hierdie show ’n sukses te maak, om dit vir hom te doen sodat ek saam met hom kan speel.”

Wallace vertel dat hy die spanuitdagings en ook die ondersteuning van die span die meeste geniet het.

“En as ek sê span dan bedoel ek die rooi span en blou span, want op die ou einde was dit maar ’n spanpoging van albei kante af.”

Volgens Wallace het hy tydens die kompetisie vier tot vyf dae per week by Olivia geoefen. Hy sê hy probeer steeds om elke dag van die week te oefen en dat hy Saterdae aan die Parkrun deelneem.

“Ek gaan 100% volhou met die oefening en eetgewoontes. Dit is nou deel van my lewe en ek dink dit sal vir altyd van nou af deel van my lewe bly.”

Wallace, wat homself as ’n entrepreneur beskryf, sê hy het nie vooraf gedink hy gaan wen nie.

“Ek het wel die doel gehad (om te wen), maar ek dink die ‘wen’ het eers ingesink hier in die middel van die kompetisie toe ons besef dit raak nou redelik ernstig, kompetisie-gewys. Maar ek het nie aan die begin gedink ek sal wen nie.”

Hy vertel dat hy, ná die gewigsverlies, ’n paar aktiwiteite met meer gemak kan uitvoer.

“Ek kan baie maklik loop, ek kan weer hardloop, ek kan met my seuntjie speel – wat my grootste goal was. Ek hardloop rond saam met hom, skop bal, ons jaag mekaar en speel wegkruipertjie. Ek kan my skoene vasmaak – dit was ook iets groot gewees en ek kan weer oefening geniet.”

Wallace meen die beste raad wat hy aan ander mense kan gee wat ook gewig wil verloor, is die volgende: “Vat dit stappie vir stappie en stel vir jou klein doelwitte en vier daardie doelwitte. Sodra jy daardie klein doelwit bereik het dan stel jy vir jou nog ’n doelwit en so gaan jy beslis jou eindpunt bereik.”

Volgens hom gaan hy beslis die prysgeld geniet op “baie gesonde maniere” en gaan hy vir hom gimnasium-toerusting aanskaf om by die huis te gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article