’n Handjievol KSUT-studente het Maandagnag ’n ontspanningsaal, genaamd die SS-saal, op die Wellington-kampus aan die brand gesteek.Foto: Verskaf


Studenteprotes het vandeesweek weer eens verwoesting by die Wellington- en Bellville-kampusse van KSUT gesaai.

In ’n amptelike persverklaring het die woordvoerder van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), Lauren Kansley, Dinsdag bevestig dat sporadiese voorvalle van protesaksie by die Bellville- en Wellington-kampus van die universiteit plaasgevind het.

“Betogers het Maandag (8 Mei) oornag ’n ontspanningsruimte vir studente, genaamd die SS-saal, in Wellington afgebrand, terwyl ’n skoonmaakstoor op die Bellville-kampus aan die brand gesteek is.”

Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, kan bevestig dat ’n klubhuis by die Wellington-kampus aan die brand gesteek is.

“Veiligheidswagte, Wellington-vispol en pops is gedurende die nag op die kampus ontplooi. Niemand is in dié stadium in hegtenis geneem nie.”

Kansley sê dat die KSUT-bestuur hierdie geweldsdade, wat deur ’n relatief klein groepie studente gepleeg word, ten sterkste veroordeel.

Dit is die derde voorval van brandstigting op die kampus binne ’n tydperk van agt maande. In September verlede jaar is drie studente in hegtenis geneem ná brandstigting op die sportvelde, gevolg deur die verbranding van ’n veiligheidshokkie by die Huis Murray-ingang in Kollegestraat in dieselfde week.

Onpartydige vroulike studente het destyds ook aan Paarl Post vertel hoe vreeslik bang hulle was toe betogende studente toegang tot vrouekoshuise verkry het, en die vroue wat in hul kamers weggekruip het, geïntimideer het om aan protesoptrede deel te neem.

“Die bestuur veroordeel eweneens dade van intimidasie, brandstigting, kwaadwillige beskadiging van eiendom en enige ander vorm van misdadigheid. Diegene wat sulke dade pleeg sal deur die volle mag van die reg in die gesig gestaar word, sowel as KSUT se institusionele dissiplinêre reëls en regulasies.”

KSUT akkommodeer ’n gemeenskap van ongeveer 35 000 studente oor vyf kampusse heen, en hoewel hierdie voorvalle ontstellend is, verseker Kansley, het dit nie die akademiese program vir die meerderheid studente ontwrig nie.

’n Mens kan wel redeneer dat sulke gevalle van geweld die kultuur van so ’n kampus versteur. Een so ’n student van die kampus sê hulle is aangeraai om tot Vrydag vir veiligheidsredes eerder tuis te studeer.

“Sommige studente staak oor NSFAS demands. Nou is ons klasse online tot Vrydag.”

Die redes wat deur betogende studente aangevoer word, is operasioneel van aard, en wissel van onder meer pendeldiens­aangeleenthede en kafeterias tot die behoefte aan bykomende verblyf, voer Kansley aan.

“Die groot kwessie hou egter verband met ’n eksterne verwikkeling oor ’n nuwe Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS)-vereiste dat enige student wat vir minder as 60 kursuskrediete studeer nie meer vir verblyf-, lewens- en vervoertoelae in aanmerking kom nie. NSFAS het hierdie studente aanvanklik geverifieer vir studie aan die begin van die 2023 akademiese jaar, en die nuwe toestand laat sommige studente in kritieke areas sonder finansiering.

“Ons verstaan ??die frustrasie van studente met betrekking tot dit, en ons, saam met studente­leier­skap, gaan voort om met NSFAS te skakel oor die pad vorentoe.” KSUT mik om alle kwelpunte wat op verskeie fo­rums, insluitend die studente­raad, bespreek is Woensdag op ’n opvolg-vergadering weer te hervat, waar antwoorde op die studente se memorandum van eise ter tafel gelê sal word.

“Ons wil herhaal dat ons die reg respekteer om vreedsaam te betoog. Ontwrigtings van hierdie aard belemmer egter die regte van die meerderheid van studente om klasse by te woon en vir personeel om in ’n nie-vyandige omgewing te werk.”

Ten slotte sê Kansley hulle is ten volle daartoe verbind om by studenteleierskap betrokke te raak en oplossings te vind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article