Die Wellingtonse fotograaf wat van verkragting aangekla is, het verlede Vrydag (12 Mei) in die hof verskyn.
Dit is die beskuldigde se eerste hofverskyning in die Paarl-landdroshof nadat die saak voorheen eers in die Wellington-landdroshof aangehoor is.
Die man word aangekla van die verkragting van ’n 19-jarige meisie. Hy het haar glo verlede jaar uitgelok deur haar op sosiale media te kontak en ’n fotosessie aan te bied. Die slagoffer is toe na bewering tydens die fotosessie aangeval en verkrag.
Kaylynn Palm, ’n woordvoerder van die organisasie Action Society, het voorheen aan Paarl Post gesê die verdagte het ná die voorval gevlug.
Die organisasie het in November verlede jaar besluit om hand by te sit om die polisie te help om die verdagte op te spoor. Volgens Palm is hy in Stellenbosch opgespoor, waar hy by ’n nuwe maatskappy begin werk het. Hy is by die werk in hegtenis geneem.
Die slagoffer het aan Palm vertel sy het die fotograaf sowat twee jaar gelede gekontak om foto’s van haar te neem, maar hy het geantwoord en gesê hy neem nie foto’s van minderjarige meisies nie.
“Die verdagte het toe die slagoffer self weer gekontak nadat sy 19 geword het. Hy het haar glo vertel van ’n kompetisie en selfs ’n billike prys vir die fotosessie aangebied.”
Die saak is tot 7 Julie uitgestel vir verdere besonderhede en konsultasie.. The Wellington photographer who has been charged with rape appeared in court again last Friday (12 May).


