Casney West is doodgeskiet in Paarl-Oos.


’n Jong vrou wat in Hillside, Paarl-Oos, doodgeskiet is, is die jongste moord wat glo verband hou met bendegeweld in die gebied, sê ’n inwoner.

Casney West (29) het Sondagaand (28 Mei) in Evettestraat gestaan toe skote van ’n verbygaande voertuig in haar rigting gevuur is. Sy is in die kop getref en is op die toneel dood.

Volgens ’n betroubare bron is West nie opsetlik geteiken nie.

“Die skieters wou glo die manspersoon met wie sy gestaan en praat het, teiken. Hy het bo-op die groen boks (elektriese boks) gelê en sy het so voor die boks by ’n vuurtjie gestaan. Die verdagtes het verkeerd geskiet. Hulle het hom gemis en toe tref die koeël haar.

“Wie die verdagtes is en hoekom hulle geskiet het, weet ons nie.

“Toe die skietery Sondagaand plaasgevind het, was dit beurtkrag. Dit was nog donker en die skietery was voordat die krag weer aangegaan het. Die meeste mense was teen daardie tyd in hul huis. Dit was net die kinders wat op drugs is wat buite was.”

Beurtkrag is Sondagaand van 20:00 tot 22:30 toegepas.

Die bron voeg by dat West bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was.

Kol. Wellington Stephans, stasiebevelvoerder van die Paarl-Oos- polisie, sê polisiebeamptes is omstreeks 21:45 oor die skietery ingelig.

“Sy is in die linkerkant van die kop geskiet. Die motief van die moord is onbekend. Die ondersoek duur voort.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article