’n Roeier in die Bergrivier het Sondag (4 Junie) tydens ’n rustige oggend-kanovaart net buite Wellington op ’n gru-toneel afgekom – ’n lyk wat in die rivier gedryf het.
Die Wellington-polisie is kort daarna na die toneel ontbied om ondersoek in te stel, en die oorskot is uit die rivier verwyder.
Die stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek volg nadat die onbekende slagoffer se liggaam die oggend, voor 12:00, in die rivier oorkant Zanddrift-plaas in die Lady Loch-omgewing, ontdek is.
“Die uitslag van die lykskouing is nog nie bekend nie. Ons vermoed die liggaam is dié van ’n swart man, maar dit kan eers bevestig word sodra die lykskouingsverslag bekendgemaak is,” verduidelik Barkhuizen.
Hy meen die liggaam het waarskynlik dae lank in die water gedryf. Dit het uiteraard veroorsaak dat voorlopige besonderhede oor die man se identiteit, soos sy geskatte ouderdom en ras, nog nie bepaal kan word nie.
Die lyk het stroomaf vanaf Paarl, Mbekweni en Wellington se rigting in die Bergrivier gedryf. Volgens inligting van die toneel af het die man se oorskot tussen onderwaterse takke en bome vasgesteek toe dit ontdek is.
- Minstens vier onverwante voorvalle waartydens die oorskot van onbekende mans en vroue gevind is, is sedert Saterdag 27 Mei in die Macassar-omgewing in Kaapstad aangemeld. In ’n verslag wat deur ’n raadslid van die Stad Kaapstad, Peter Helfrich, vrygestel is, is ’n vierde liggaam die afgelope week opgespoor. “Saterdagoggend (27 Mei), is die lyk van ’n ongeïdentifiseerde vrou, wat vermoedelik in haar dertigs is, gevind waar sy in vlak water op die Macassar-strand gedryf het,” lui Helfrich se verklaring. “Die lyk is die oggend omstreeks 07:00 deur ’n visserman ontdek.” Hierdie tendens van menige liggame wat in Macassar gestort is, word aan die voortslepende kragkrisis toegeskryf: “Die kragkrisis, tesame met die feit dat ons deur ’n polisiekantoor bedien word wat heeltemal onderbeman is en te min hulpbronne het, het direk gelei tot die toename in misdaad in die gebied gelei,” meen Helfrich.
Lees hierdie week se uitgawe van die Paarl Post vir nog nuus hieroor.





