Die Paarl-polisie seëvier die week met minstens twee vonnisse wat die afgelope maand in die Paarl-landdroshof aan skuldiges opgelê is.

Een so ’n oortreder, Lincoln Roman, is op 8 Junie in die Paarl-landdroshof agt jaar gevangenisstraf opgelê vir die roof van ’n selfoon, vertel Paarl-polisie se woordvoerder, kapt. Louise du Plessis.

“Die man was een van drie verdagtes wat die slagoffer die oggend van 14 Februarie 2022 met ’n panga gedreig en daarna die klaer se selfoon gesteel het. Die rower is geïdentifiseer en is ná intensiewe ondersoek in hegtenis geneem en voor die hof gebring,” verduidelik Du Plessis.

In ’n onverwante saak is nóg ’n beskuldigde, Heinrich Fredericks, op Donderdag 8 Junie deur die Paarl-landdroshof “tien jaar direkte gevangenisstraf opgelê vir die besit van gesteelde munisipale kabels”.

Fredericks is op 9 Oktober in Langenhovenstraat met ’n sak vol elektriese kabels in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article