’n Ma van die Paarl is warm onder die kraag nadat personeel by die Dal Josaphat-toetssentrum verlede week gesê het haar seun moet na Ceres gaan om sy motorfietslisensie te bekom.

Die ma, wat anoniem wil bly, vertel sy en haar seun is verlede week by die Dal Josaphat-toetssentrum meegedeel die Drakenstein-munisipaliteit het nie ’n geskikte baan vir hom om uit te passeer vir sy motorfietslisensie nie.

“Die een werker het gesê die baan is al vir die afgelope vier jaar stukkend. My kind moet nou al die pad Ceres toe gaan. Dit kan mos nie wees dat in hierdie groot munisipaliteit daar nie ’n geskikte plek is vir mense wat hul motorfietslisensie wil kry om uit te passeer nie.”

Die ouer meen ook dat ekstra kostes dan aangegaan moet word om haar seun, met sy fiets so ver te vervoer.

Maar volgens Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit is die baan wel geskik vir motorfietslisensie-uitpasserings.

Na aanleiding van Esau se terugvoering blyk dit egter die motortoetsapparaat werk nie voldoende nie.

“Sodra die kalibrasie van die motortoetsapparaat gedoen is, sal die publiek dienooreenkomstig ingelig word van die beskikbare datums vir motorfiets-uitpasseringstoetse,” het Esau gesê.

Volgens hom verwys die munisipaliteit nie mense na Ceres toe nie.

“Drakenstein is in geen posisie om enige aanbevelings te maak nie. Elke aansoeker moet gaan waar dit vir hom/haar die gerieflikste is om die toets af te lê.”. Tans wag mense wat aansoek gedoen het om hul rybewys of hernuwing daarvan meer as drie maande.

Die rede hiervoor is die enkele masjien wat landwyd verantwoordelik is vir die druk hiervan was maande lank foutief.

Esau het bevestig die drukker is uiteindelik herstel en die agterstand landwyd moet nou ingehaal word.

“Drakenstein-munisipaliteit ontvang tans die kaarte van die applikante wat in April vanjaar aansoek gedoen het,” het Esau gesê.

“Daar word redelik druk ervaar as gevolg van die masjien wat buite werking was, en ons versoek graag dat die publiek geduld aan die dag moet lê.

“Ons help almal wat aansoek gedoen het so gou as wat ons kan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article