Oom Frans WilliamsFoto: Chantélle Hartebeest


’n Oupa van Paarl-Oos het onlangs sy 80ste verjaarsdag gevier, en is nog springlewendig en elke dag druk besig.

Oom Frans Williams loop dalk hoog in jare, maar hy is nog jonk van gees, fiks en werk steeds elke dag.

Hy vertel hy het in 1996 – dit is nou 27 jaar gelede – by Neil Lyners, die eienaar van Lyners Engineering, begin werk.

Volgens Oom Frans het hy oor die meer as twee dekades so te sê deel van die Lyners-familie geword.

“Ek is baie lief vir mense en ek hou van praat en werk. Ek het al die jare werkies vir hom gedoen. Ek het pype gelê en aanmekaar gesit, tuingemaak en geplant. Al die jare doen ek net my werk wat hy my gee. Sy vrou en kinders – hulle almal – is lief vir my, want ek het nie wat hulle het nie en hul harte is altyd oop. Hulle behandel my en praat met my altyd met respek en eer my.

“Ek het by die eerste huis wat hy (Neil) gehad het, begin werk en die grond daar was baie ongelyk. Hy het ’n vragmotor vol blomme gekoop en ek het al daai blomme alleen geplant. Ek het die grond gelyk gemaak en pype aangelê vir sy blomtuin en na die tuin omgesien.”

Oom Frans vertel hy is in Noorder Paarl gebore en het op Perdeberg-plaas grootgeword. Hy het vyf seuns, van wie drie oorlede is. Hy voeg by sy vrou, Susan, het al jare gelede gesterf. Hulle was 47 jaar getroud.

Sy grootste vreugde vandag, buiten sy werk, is sy nege kleinkinders en elf agterkleinkinders.

Oom Frans sê hy ry baie fiets en dit hou hom fiks. Hy het op 1 Augustus verjaar en voel nie ’n dag ouer nie.

“Ek is bly die Here het my al die jare gespaar. Ek gaan baie kerk toe en leer baie daar. Die Here is genadig vir my, want daar is baie wat nie die ouderdom behaal wat ek is nie. Ek voel soos iemand wat 15 of 16 jaar oud is. Ek het nog nooit oud gevoel nie. Ek het my maar altyd op my plek gehou – gewerk en geoefen. Baie mense sê ek werk hard, maar vir my voel dit nie of ek hard werk nie. Ek het so grootgeword.”

Vir Lyners is dit ’n voorreg om al die jare, en nog steeds, ’n pad saam met Oom Frans te stap. Lyners beskryf hom as ’n Chuck Norris, ’n Amerikaanse gevegskunstenaar en akteur, wat skrik vir niks.

“Frans is beyond ’n ingenieur met praktiese ervaring – die mees komplekse versterking en verskuiwing kan hy so eenvoudig as moontlik maak. Hy ken nie sy eie kragte nie. Hy ken van leverage, buigmomente, strength of materials, breaking point, potensiaal – hy maak my skaam met sy praktiese ervaring.

“Vir Frans stel jy die eindproduk ten doel en hy doen dit metodies. Moenie vir hom sê ‘plant dié plantjie daar en dan wil ek dat hê nie’. Frans sal sê, ‘meneer, dit gaan nie werk nie’. Sê vir hom ‘Ek wil ’n wingerd hê’, dan sal hy ’n wingerd vir jou cultivate.”

Oom Frans sê hy sal aanhou werk totdat hy nie meer kan nie, maar vir eers sien hy uit na die volgende 80 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article