Quiwin Maasdorp van die Paarl op die verhoog in Kroasië waar hy Suid-Afrika by die International Association of Majorette Sport-kampioenskap verteenwoordig het. Hy het ’n goue medalje verower.


’n Maand gelede was die plaaslike trompoppie Quiwin Maasdorp nog vol vrees om op ’n vliegtuig te klim om die land by ’n internasionale trompoppiekampioenskap te gaan verteenwoordig. Maar met sy terugkeer het hy nie net sy vrees oorkom nie – hy is ook as een van die wêreld se beste trompoppies gekroon.

Dié 16-jarige leerder aan New Orleans Sekondêr is steeds in ongeloof oor sy goeie prestasie en dat hy die kans gegun is om die wêreld so ’n bietjie te verken.

Quiwin was een van ’n groep trompoppies wat Suid-Afrika in Augustus by die International Association of Majorette Sport -kampioenskap in Kroasië verteenwoordig het.

“Die dag toe ons vertrek, was ek op my senuwees om die eerste keer op ’n vliegtuig te klim. Dit was ons almal se eerste keer, maar toe die vliegtuig opstyg, was dit glad nie so erg soos wat almal sê nie. Dit was wel ’n lang vlug tot in Doebai,” vertel hy.

“Die dag toe ons in Kroasië aankom, was dit 36 °C en die enigste ding wat ek gesoek het, was ’n Coke, wat R81 gekos het. Die land is verskriklik duur.”

Die groot oorwinning van Quiwin volg ná sy toewyding aan dié sport die afgelope vier jaar. Kort voor die internasionale kampioenskap het Quiwin aan die Federation of Drill Dance, Cheerleading and Majorette Sport South Africa (FDDCMSA) se nasionale trompoppiekampioenskap in Wynberg deelgeneem. Hier het hy vyf goue medaljes en twee silwermedaljes gewen.

By die internasionale kompetisie het Quiwin nie teruggehou nie en die internasionale gehoor se monde laat oophang. Hier het hy drie goue en ’n silwermedalje gewen, asook ’n diamant-toekenning. Die toekennings sluit in Quiwin se solo-optrede, waarvoor hy as die wêreld se beste trompoppie gekroon is.

“Ek was een bol senuwees toe ek op daai verhoog gaan en toe maak ek dit vir die eindronde. Ek het toe vinnig weer my solo-reëls gelees en seker gemaak ek het alles volgens die boek gedoen. Toe die eindronde aanbreek, was die vloer myne. Ek het goed gevoel oor my performance. Die middag was dit die prysuitdeling. My naam is as die wenner geroep,” sê hy steeds opgewonde.

“Dit was die eerste goue medalje vir Suid-Afrika.”

Quiwin is ’n lid van die plaaslike groep CJP Majorettes en sê sy belangstelling in die sport het ontwikkel nadat hy ’n ander seun aan die sport sien deelneem het.

Dié jong man sê hy is ewig dankbaar vir almal wat hom tot nou toe ondersteun het, insluitend sy familie, vriende en sy afrigters by CJP Majorettes sowel as sy SA afrigters.

Sy ouers, Quinton en Yolanda Maasdorp, betuig ook hul dank aan almal wat hul seun ondersteun het deur geldinsamelings wat gehou is, asook die BackaBuddy-geldinsameling.

“Ons wil aan die mense wat ons finansieel bygestaan het, baie dankie sê. Ons waardeer dit opreg. Ons is baie trots op Quiwin – hy bewys homself elke keer. Hy is op sy gelukkigste as hy op daai veld is. Ons kan vandag onsself as die wêreld se trotsste ouers beskou.”

Die een internasionale kompetisie is nog nie eens klaar nie en Quiwin en sy jonger sussie, Aqeelah, is reeds besig om voor te berei vir die IAM-kampioenskap volgende jaar in Frankryk.

Die sibbe het ook ’n gesamentlike BackaBuddy-geldinsameling gestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article