Die DHL-stadion in Kaapstad speel op Saterdag 6 Januarie 2024 gasheer vir die grootskaalse Theuns Jordaan Tribute-konsert, wat vroeër vanjaar op Loftus Versfeld aangebied is.
Dit het die room van Suid-Afrika se kunstenaars voor ’n skare van meer as 20 000 toeskouers byeengebring om in ’n wêreldklasproduksie hulde te bring aan die ikoniese Theuns Jordaan.
Ná ’n vloedgolf van versoeke aan die organiseerders is daar nou goeie nuus vir Kapenaars: Die Theuns Jordaan Tribute-konsert kom Kaap toe.
En as ’n mens kyk na die gewildheid van die Pretoriase weergawe, gaan die kaartjies vinnig opgeraap word.
Die 14 top- Afrikaanse kunstenaars wat by die Pretoria-konsert opgetree het, sal ook in Kaapstad op die verhoog wees om Theuns se liedjies in ’n uitnemende, grootskaalse produksie te laat herleef.
Konsertgangers kan uitsien na vertonings deur Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Danny Smoke, Liezel Pieters, Lianie May en Jacques du Plessis.
Die Theuns Jordaan Tribute se organiseerder, Sonett de Villiers, sê die Loftus-konsert was ’n groot viering van Theuns se lewe en musiek.
“Die konsert het almal se verwagtinge oortref. Dit was een van die mooiste en grootste gebeurtenisse in Afrikaanse musiek nog. Dit was vir seker ’n enig-in-sy-soort musikale belewenis en spreek boekdele vir Theuns se nalatenskap sowel as van die kunstenaars, produksiespan en kreatiewe leierskap wat passievol te werk gegaan het.
“Dit was ’n enorme projek en ons het nie voorsien om dit weer te doen nie, maar sedert die Loftus-konsert hou Kapenaars aan met vra dat die konsert ook in Kaapstad aangebied word. Ons het navorsing gedoen en besef weinig Kapenaars was by die Loftus-konsert teenwoordig.
“Ons voel verplig om iets vir Theuns se Kaapse aanhangers te bied, omdat hulle aanhou vra. Die produksie het baie werk, tyd en kreatiwiteit vereis en dit het ’n besonderse vertolking van Theuns se musiek opgelewer. Ons sien uit om dit met net soveel passie in die DHL-stadion aan te bied.”
Die Theuns Jordaan Tribute laat Theuns se liedjies herleef in ’n reuse- produksie wat deur die gesoute vervaardigers Andries Pieterse, Deedee Oosthuizen en Floors Oosthuizen in samewerking met Theuns se jare lange vriend Jacques du Plessis behartig word.
Verkope is beperk tot 20 000 kaartjies. Koop jou kaartjies by https://itickets.co.za/events/474125. Drie Paarl Post-lesers kan elk ’n dubbel-staanplekkaartjie wen.
WhatsApp jou naam en die antwoord op die volgende vraag na 066 484 3728: Waar is die vorige Theuns Jordaan Tribute gehou?





