Jumainune Arendse, woelige flank en kaptein van Robertson Town, probeer ’n duikslag deur David Wagenaar, losskakel van Ashton United, ontduik.Foto: Norman Evertson


ASHTON – In so verre dit die ligawedstryde betref, het die 2023-rugbygordyn vir die meeste Grootuitdaagbekerspanne Saterdag (9 September) gesak.

Die volgende vlak van mededinging sal wees wanneer die spanne wat eerste en tweede in die ses streke – Weskus, Witsentraal, Overberg, Breë-Langeberg, Swartland en Noordweste – geëindig het, sake in ’n reeks Top-12-uitspeelwedstry­de gaan uitspook om die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker­klubkampioen te bepaal.

Ashton United en Robertson Town, (Breë-Langebergstreekwenner), het Saterdag ook hul laaste ligaverpligtinge afgehandel. Robertson en Young Hamiltons (naaswenner) het reeds vroeër vir die Top-12-kompetisie gekwalifiseer.

Die kragmeting tussen Ashton en Robertson is op die Cogmanskloof- sportterrein gespeel, waar laasgenoemde in ’n vernietigende bui was.

Robertson het Ashton in ’n ystergreep gehad en nooit laat los nie.

Die besoekers het Ashton in die skrums laat kreun en agterlangs was dit veral die losskakel, Jovelian de Koker, en Runé Lucas (regtervleuel) wat uitstaande spel gelewer het.

Voorlangs het die besoekers se kaptein, Jumainune Arendse, sy troepe met voorbeeld gelei. Hy het ’n barshou gespeel, die bal sterk gedra en is met groot moeite gestuit.

De Koker, wat ’n drieë-driekuns behaal het, het in die eerste helfte twee keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier, terwyl Runé Lucas (regtervleuel) sy eerste van twee drieë ook in die eerste veertig minute gedruk het.

Cheslin Arendse (heelagter), wat goed pale toe geskop het, het twee van die drieë verdoel.

Ondanks die besoekers se oorheersing en goeie verdediging in veral die eerste helfte, het Ashton se linkervleuel, Mervin January, kort voor rustyd ná ’n tydperk van volgehoue druk op Robertson se doellyn tog ’n gaping gevind en gaan druk.

Shanwin Conradie, heelagter van die tuisspan, het met die doelskop geslaag en die rustydtelling op 19-7 te staan gebring, met Robertson los voor.

Ná die blaaskans het Robertson sy aanslag voortgesit.

De Koker het sy derde drie ná ’n blaps deur die tuisspan se losskakel, David Wagenaar, gaan druk. Wagenaar het die bal ná ’n aangee in sy kwartgebied misgetas, waarna De Koker dit opgepik en sy drieë-driekuns voltooi het.

Hierna het Lucas in ’n praglopie al met die regterkantse kantlyn langs sy spoed en krag ten toon gestel. Hy het op pad doellyn toe twee verdedigers kort ná mekaar met brute krag uit die pad geloop voordat hy sy tweede drie van die wedstryd gaan druk het. Arendse was weer in die kol met die doelskop.

Ná nog ’n verdoelde drie deur die besoekers se Luke Fluks (plaasvervanger) minute later het die telling skielik op ’n allemintige 40-7 vir Robertson gestaan.

Baie spanne sou in so ’n situasie besmoontlik boedel oorgegee het, maar Ashton het nie. Inteendeel, die tuisspan het skielik ’n tweede asem gekry en die steil bult met nuwe geesdrif aangedurf.

Ashton het met mening terugbaklei. Tydens sy merkwaardige terugvegpoging het hy drie onbeantwoorde drieë aangeteken. Bernard Swarts (flank), wat geskitter het, het twee keer gaan druk, terwyl Nilon Maarman (binnesenter) ook agter Robertson se doellyn gaan kuier het.

Conradie het twee van dié drieë verdoel, wat die eindtelling ná ’n uitmergelende 80 minute van klipharde rugby op 40-26 in die streekkampioen se guns te staan gebring het.

Die skeidsragter het nie minder nie as drie strafkaarte (geel) tydens die wedstryd uitgedeel – twee aan Robertson en een aan Ashton.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article