Govanni van Rooyen(6)

Credit: SYSTEM

Die familie van die sesjarige Govanni van Rooyen is in rou gedompel ná haar skielike dood toe sy voor die aanbreek van Kinderkankerbewusma-kingsmaand weens leukemie oorlede is.

Zirvanna Lendore, Govanni se tannie, sê haar dood is ’n groot slag vir hul familie, veral omdat hulle nie eens geweet het sy het leukemie nie. Die pragtige meisietjie is sowat twee weke ná haar kankerdiagnose op 25 Augustus in die Tygerberg-hospitaal dood.

Kinderkankerbewus­makingsmaand word elke jaar in September oor die wêreld heen gehou.

“Ons het in Augustus uitgevind wat sy makeer en sy het nie lank daarna nie afgesterf. Haar siekte was maar baie kort.”

Volgens Lendore was Govanni in haar ouma Marie Lendore se sorg, en het sy net gekla van haar ore wat pyn.

“Haar ore het onophoudelik gepyn. My ma (ouma Marie) het haar kort-kort kliniek toe geneem en dan Paarl-hospitaal toe en dan kry sy net antibiotika om te help vir die oor- infeksies.

“Die laaste keer toe weet ons nie meer hoe om die pyn te verlig nie en sy en my ma het Paarl-hospitaal toe gegaan en daarvandaan is hulle na Tygerberg-hospitaal verwys. Die ambulans het hulle sommer geneem tot by die hospitaal, want die dokter het gesê wanneer ’n mens binne-oor- infeksie het, is daar eintlik ’n siekte in jou liggaam en die oorpyn is maar net ’n simptoom daarvan. By Tygerberg het hulle uitgevind sy het leukemie en sy is daarvoor behandel.”

Govanni was in die hospitaal tot en met haar afsterwe. “Sy het gelukkig nie regtig pyn gehad nie en was net verskriklik moeg,” sê haar tannie.

“Aangesien ek en my ma al volwassenes in haar lewe is omdat haar ma ’n psigiatriese geval is, was dit nogal swaar vir ons toe die kanker by haar gediagnoseer is. Maar God bring vir ’n mens vreugde en vrede, want Hy laat ons verstaan dat Hy alleenlik die God is wat antwoorde kan gee. God het nou vir ons geopenbaar dat sy ’n engel was, want elke mens wat haar geken het, het altyd gevra het wie se kind is sy. Govanni was ’n baie nederige mens in haar jonkheid, maar ek kan sien God het ’n behae in haar gehad. Sy was klein as ’n mens, maar haar teenwoordigheid was baie groot. Sy was nie bestem vir hierdie bose wêreld nie.”

Govanni en haar ouma Marie was baie na aan mekaar, vertel Lendore. Hulle twee was altyd saam, behalwe wanneer Govanni skool toe moes gaan.

“My ma was van die begin af saam met haar by die hospitaal totdat sy dood is. Sy en my ma was baie na aan mekaar en die dood het hulle nou kom skei.”

Govanni was ten tyde van haar dood in graad R by Ebenezer Primêr. Haar onderwyser, Kerry-Lee Jardine, beskryf haar as ’n sprankelende mens wat lief was om met haar maatjies te speel.

“Govanni was ’n pligsgetroue leerder in my klas. Sy was baie opgewonde om skool by te woon. Sy was ’n plesier in die klas. Ek en Govanni het elke dag gelyk skool toe gekom – ons het voor 07:00 by die skool aangemeld. Ek gaan dit mis, veral as ek klas toe kom en sy is nie in die klas nie. Daarna verlang ek baie. Ek was baie lief vir haar en sal haar nooit vergeet nie.”

Little Fighters Cancer Trust (LFCT) is ’n plaaslike organisasie wat praktiese en emosionele ondersteuning bied aan kinders met kanker en hul families, terwyl hulle werk om openbare bewusmaking van vroeë waarskuwingstekens van kinderkanker in Suid-Afrika te verhoog.

Lizelma Olivier, programbestuurder en maatskaplike werker by LFCT, sê: “September is Kinderkankerbewust­heidsmaand, ’n tyd om kinders en gesinne, wat deur hierdie verwoestende siekte geraak word, te eer en te onthou en om ondersteuning te werf om kinders met kanker beter uitkomste te gee deur kinderkankerbewustheid te ondersteun.

“Elke September wend ons ’n ekstra spesiale poging aan om bewustheid van kinderkanker te verhoog, die impak wat ’n diagnose kan hê, en hoe die Little Fighters Cancer Trust se noodsaaklike werk jong kankerpasiënte en hul gesinne help.”. The family of six-year-old Govanni van Rooyen mourns her sudden death after she passed away due to leukemia before the dawn of Childhood Cancer Awareness Month, which is celebrated during September.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article