Polisie minister Gnl Bheki Cele, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Kaapstad onthul dat die polisie in die Wes-Kaap op altesaam 1 365 onwettige vuurwapens en 31 851 rondtes ammunisie tussen April en September vanjaar beslag gelê het. Altesaam 979 verdagtes is vir moord in dieselfde tydperk in hegtenis geneem.
Cele het Dinsdag lig gewerp op die suksesse van die polisie se nasionale Operation Shanela-veldtog wat in April vanjaar van stapel gestuur is.
Die veldtog fokus onder meer op die verbetering van polisie sigbaarheid, bekamping van georganiseerde misdaad en minagting van die oppergesag van die gereg.
Cele het op Dinsdag se konferensie die Wes-Kaapse howe geprys vir die lewenslange vonnisse wat aan 11 moordenaars en 11 verkragters in die afgelope ses maande toegeken is.
Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die toename in ontvoerings wat in dié tydperk in die provinsie aangemeld is.
“Sedert April was daar altesaam 13 voorvalle van ontvoerings waar lospryse geëis is. Sewe van hierdie sake is opgelos en 28 verdagtes is reeds aangekeer. Drie voertuie wat tydens die ontvoerings gekaap is, is opgespoor met twee verdagtes wat lewenslank gevonnis is.”
Volgens Cele is altesaam 278 mense sedert April in die provinsie in hegtenis geneem vir hul vermeende betrokkenheid by ontvoerings.
Hy sê die polisie het in dié tydperk op dwelms, vuurwapens, gesteelde voertuie en vervalste produkte met ’n gesamentlike waarde van meer as R140 miljoen beslag gelê.
Cele sê benewens die suksesse wat die polisie deur die Operation Shanela-veldtog maak, is dit kommerwekkend dat daar in een week alleen meer as 100 moorde in die provinsie plaasgevind het.
Die minister het nie gespesifiseer in watter maand hierdie moorde plaasgevind het nie.
“Dit was genadelose skietvoorvalle waartydens vroue, kinders, professionele mense, broodwinners en selfs ons eie beamptes geteiken is.”
Hy het na ’n spesifieke voorval in Gugulethu verwys waar ’n beampte, ao. Lindela Mraqisa, een van vyf mense was wat Saterdagaand tydens ’n verbyry-skietery afgemaai is.
Volgens Cele is die polisie op die spore van drie verdagtes vir dié voorval.
Die polisie het Gugulethu as ’n brandpunt bestempel en sê verskeie van sy gevegseenhede sal na die gebied ontplooi word.
Die minister sê die polisie oorweeg ook om die leierskap by die Gugulethu-polisiekantoor te verander.





