Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het sy skok en ongelukkigheid uitgespreek nadat die plaaslike kliniek in Wellington Maandag sy dienste moes opskort weens ’n inbraak wat oor die naweek plaasgevind het.
Die kliniek is in Dr. Abdurachman-laan geleë.
Altesaam agt rekenaars en drie televisieskerms is in die inbraak gesteel, met talle medikasie wat glo ook op die vloere uitgegooi is, het kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, Maandag gesê.
Barkhuizen het gesê die polisie ondersoek ’n klagte van sakeroof en niemand is nog aangekeer nie.
“Ons forensiese span het wel op vingerafdrukke afgekom, wat tans nagegaan word. Hulle sal die uitslae met ons deel sodra dit beskikbaar is. In hierdie stadium is daar maar heelwat weergawes oor wat presies gebeur het, maar die polisie volg alle moontlike leidrade op om die inbrekers vas te trek.”
Volgens Barkhuizen is dit nog nie duidelik hoeveel mense by die inbraak betrokke was nie.
Hoewel Paarl Post dit nie by owerhede kon bevestig nie, was daar Maandag sprake op sosiale media dat verskeie medikasie sowel as lêers van pasiënte ook tydens die rooftog verdwyn het.
Die gesondheidsdepartement in die provinsie het sy skok oor die inbraak uitgespreek en sê die kliniek sal tot verdere kennisgewing gesluit wees.
“Aansienlike skade is aan die gebou aangerig en verskeie toestelle is gesteel. Ons veroordeel gedrag soos hierdie ten sterkste. Dit is nou ons kwesbare gemeenskappe wat hierdeur geraak word,” het Sandra Maritz, die gesondheidsdepartement se provinsiale woordvoerder, aan Paarl Post gesê.
Sy het gesê die kliniek voorsien basiese gesondheidsorg aan sowat 5 000 inwoners.
“Dienste sluit in siektevoorkoming sowel as akute en chroniese pasiëntdienste. Ons sal die gemeenskap inlig sodra ons weer ons omvattende pakket van dienste by die kliniek kan aanbied.”
Maritz het ook gesê pasiënte kan steeds voorafverpakte medikasie by die kliniek afhaal. ’n Versamelpunt sal voortaan op die perseel beskikbaar wees.
Pasiënte word aangeraai om intussen die plaaslike kliniek op Mbekweni of die Huis McCrone-kliniek, ook in Wellington, te besoek.
Maritz het ’n beroep gedoen op inwoners met enige inligting oor die inbraak om dit onder die polisie se aandag te bring. Sy het gesê die departement werk tans saam met sy infrastruktuurspan en kyk na opsies om veiligheid by die kliniek te verbeter.
Aidan Stowman, die wyksraadslid van die gebied, het ook sy misnoeë oor die inbraak uitgespreek.
“Dit is tragies dat ons gesondheidsfasiliteite deurloop en gevandaliseer word deur vandale – van wie sommige in ons omgewing woon. Ons bejaardes ly daaronder aangesien hulle nou onnodige uitgawes moet aangaan om vervoerkoste te dek sodat hulle hul kroniese medikasie in Mbekweni kan gaan haal.
“Ek wil graag ’n beroep op ons gemeenskap doen om saam te staan en hierdie probleme hok te slaan. Diegene wat dit gedoen het, moet onthou dat hulle dalk binnekort ook in die ry sal staan om kroniese medikasie te ontvang. Kom ons respek ons bejaardes, pasiënte en kinders.”





